Nuus 08:00
BULLETIN 20 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi is teleurgesteld in Cele se gedrag
# Petrolpryse gaan moontlik styg in Oktober
# En NAVO onderskep Russiese vegvliegtuie wat Estland se lugruim skend
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het sy teleurstelling uitgespreek met die optrede van die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele. Mkhwanazi, wat by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig, sê Cele het na bewering probeer inmeng in ‘n dissiplinêre saak teen misdaadintelligensiehoof, Feroz Khan deur druk op die distrikskommissaris van Zululand, Jabulani Khumalo, te plaas om hom te kry om te bedank sodat hy nie oor die verhoor sou lei nie. Mkhwanazi sê Cele se optrede was onbehoorlik en het hom baie ongemaklik gemaak:
Mkhwanazi sê ook senior regbank- en intelligensiebeamptes het ondersoeke belemmer na die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, wat op aanklagte van bedrog en korrupsie teregstaan. Hy beweer borgtogvoorwaardes en -opdragte het Khumalo en medebeskuldigde beamptes verhoed om toegang tot misdaadintelligensiekantore te verkry, wat voortgesette ondersoeke ontwrig het. Mkhwanazi beweer sekere amptenare, insluitend ‘n beampte van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie en landdroste, het saamgesweer om die saak te vertraag:
# Inligting deur die Sentrale Energiefonds toon onderverhaling in petrolpryse, wat ‘n waarskynlike styging in Oktober aandui. Petrol 93 kan met vyf-sent per liter styg en Petrol 95 met 13-sent, terwyl diesel effens kan daal. Die fonds sê die rand se sterkte verlig die druk tot ‘n mate, maar stygende internasionale oliepryse beperk die verligting. Brent-ruolie het hierdie week tot een-duisend-200-rand gestyg as gevolg van Oekraïene se aanvalle op Russiese infrastruktuur, maar het weer teruggesak tot een-duisend-162. Ontleders waarsku enige verswakking in die rand kan prise die hoogte laat inskiet.
# Drie Russiese vegvliegtuie wat die Estlandse lugruim geskend het, is deur NAVO onderskep. Estland se ministerie van Buitelandse Sake het die inval as “skaamteloos” bestempel. Hy sê drie Russiese MiG-31-vegvliegtuie het gister die land se lugruim sonder toestemming oor die Golf van Finland vir 12 minute binnegedring. NAVO-woordvoerder Allison Hart sê dis nog ‘n voorbeeld van roekelose Russiese gedrag en NAVO se vermoë om daarop te reageer. Spanning tussen NAVO en Rusland het toegeneem sedert die inval in Oekraïne. Dit het die afgelope week verder verskerp nadat Russiese hommeltuie die NAVO-lede Pole en Roemenië se lugruim geskend het.
# En om mee af te sluit, atletieknuus: Sinesipho Dambile moes Vrydag met die agtste plek tevrede wees in ‘n blitsige 200-meter-eindronde by die wêreldkampioenskap in Tokio. Die Amerikaner Noah Lyles het gewen in 19,52-sekondes. Lyles het die oorwinning oor die laaste 10 meter beklink vir sy vierde agtereenvolgende wêreldkroon in die 200-meter. Hy is gevolg deur sy landgenoot Kenneth Bednarek en die Jamaikaan Bryan Levell, wat albei persoonlike beste tye behaal het. Die Olimpiese kampioen Letsile Tebogo van Botswana het vierde geëindig. Dambile, wat ‘n persoonlike beste van 19,97 in sy halfeindronde behaal het, het die wenstreep in 20,23-sekondes oorgesteek.
Die Olimpiese silwermedaljewenner Jo-Ané du Plessis het intussen gesukkel om haar ritme te vind in die kwalifiserende ronde van die vroue-spiesgooi, maar sy het genoeg gedoen om ‘n plek in vandag se eindronde te verseker. Die 27-jarige het ‘n beste van 61,38 meter gegooi – heelwat minder as die outomatiese kwalifiserende afstand van 62,50 – wat haar vyfde in haar groep en 10de algeheel laat eindig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….