Nuus 08:00
BULLETIN 16 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement veroordeel die Inkomstediens se selektiewe geregtigheid in Ramaphosa se Phala Phala-skandaal
# ActionSA se Jeugvleuel vra dat daar beslag gelê word op Blade Nzimande se bates
# En, Donald Trump wen Iowa se Republikeinse koukusse
# Die African Transformation Movement sê hy veroordeel die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se rondvallery, selektiewe geregtigheid en toesmeerdery in president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaasskandaal. Dit volg nadat die inkomstediens ‘n strafregtelike saak teen die Soedannese sakeman Hazim Mustafa aanhangig gemaak het. Hy het in Desember 2019 10,82-miljoen-rand kontant betaal vir 20 buffels van Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo. Die geld is in 2020 op die plaas gesteel. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die inkomstediens het nagelaat om ʼn klag teen die president in te dien:
# Die Jeugvleuel van ActionSA eis beslaglegging op die bates van die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, ná korruspie-aantygings. Hy word beskuldig dat hy gunslone ontvang het van diensverskaffers van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die veldtogbestuurder van die organisasie, Boitumelo Talafala, beklemtoon jongmense moet hulle toekoms weer terugeis. Talafala maan, indien nodig, is die jeug bereid om die strate in te vaar, in navolging van die jeugaktivisme van 1976, om Nzimande se verwydering te verseker.
# Die polisie in Gauteng het ʼn soektog van stapel gestuur nadat vier mense in verskillende voorvalle in Diepsloot vermoor is. In een voorval is die slagoffer gekaap en doodgeskiet. Die gekaapte voertuig is later verlate in Tembisa aangetref. Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê in die ander voorvalle is die slagoffers beroof en doodgeskiet:
Voormalige Amerikaanse president Donald Trump het die Iowa-koukusse gewen, wat sy plek as voorloper vir die Republikeinse benoeming verstewig. Met meer as 80-persent van die stemme reeds in, is die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, en die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, in ‘n hewige stryd om die tweede plek. Iowa is die eerste staat waar Republikeinse kiesers hul Withuis-kandidaat kon kies. Die senior adviseur van die Trump-veldtog, Jason Miller, het aan CBS gesê Trump is die beste kans wat die Republikeinse party om president Joe Biden te klop:
# Sokker: Argentinië en Inter Miami se voorspeler, Lionel Messi, het die toekenning vir beste mansspeler van die jaar gewen by die Fifa Best Awards in Londen. Die toekennings gee erkenning aan die beste presteerder tussen 19 Desember 2022 en 20 Augustus 2023. Manchester City se bestuurder, Pep Guardiola, wat die span in die vorige seisoen tot ʼn driekuns gelei het, is aangewys as beste mansafrigter. City se Ederson het die doelwagter-toekenning opgeraap. Engeland se vrouespanbestuurder, Sarina Wiegman, is afrigter van die jaar terwyl Mary Earps van Manchester United vir die tweede agtereenvolgende jaar die beste doelwagter is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-872-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-49-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….