Nuus 14:00
BULLETIN 19 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KZN polisiekommissaris beskuldig joernaliste voor Madlanga-kommissie dat hulle dwelmeenhede beskerm
# Minister Steenhuisen sê die G20 sal voortgaan om regverdiger landboureëls by Wêreldhandelsorganisasie te eis
# En, Trump sê TV-netwerke wat teen hom gekant is, moet ‘moontlik’ hulle lisensies verloor
# Die polisiekomissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê sommige joernaliste is besig om polisiedwelmeenhede teen ondersoeke te beskerm. Op dag drie van die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria, beweer Mkhwanazi dat sekere verslaggewers probeer om eenhede wat by misdaad betrokke is, te beskerm deur vals berigte te versprei wat daarop gemik is om hom te diskrediteer. Hy voer aan dat mediavooroordeel help om twyfelagtige polisie-operasies te beskerm en om diegene wat met dwelmhandel verbind word, te beskerm:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die G20 Voedselsekerheidstaakmag sal voortgaan om regverdiger landboureëls te eis by die Wêreldhandelsorganisasie wat verwronging sal verminder en die belange van boere in ontwikkelende lande sal beskerm. Die minister sê deur die Afrika-Unie se Agenda 2063 en die raamwerk van die Omvattende Afrika Landbou-ontwikkelingsprogram sal Afrika hierdie momentum in die komende dekade voortsit en verseker dat globale verbintenisse in streeks- en nasionale optrede, versterk word:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump stel voor dat sekere TV-netwerke se lisensies “weggeneem moet word”, terwyl hy Amerika se uitsaaiwaghond ondersteun in ‘n geskil oor die skorsing van laataand TV-aanbieder, Jimmy Kimmel. ABC het die komediant “onbepaald” van die lug verwyder oor sy opmerkings oor die sluipmoord, verlede week op konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk, in Utah. ABC het die program onttrek nadat die Federale Kommunikasiekommissie, wat deur ‘n Trump-aangestelde voorsitter gelei word, met regulatoriese optrede gedreig het. Trump het aan verslaggewers gesê die TV-netwerke gee hom net slegte publisiteit.
# Motorsport: Carlos Sainz vra permanent wedstrydbeamptes in Formule Een na sy geslaagde appèlaansoek teen ‘n strafpunt na ‘n botsing in die Nederlandse Grand Prix. Die Williams-renjaer het onmiddelllik beswaar gemaak na sy botsing einde Augustus met Liam Lawson van Alpine. Williams het bykomende bewyse voorgelê, waarna die beamptes van Zandvoort sy straf gekanselleer het. Die huidige stelsel behels dat afsonderlike beamptes vir elke wedren aangestel word. Sainz sê twee van die drie beamptes behoort permanent aangestel te word vir elke wedren van die seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-532-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-656-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-38-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika vier vandag Nasionale Herwinningsdag waarop bewustheid geskep word oor herwinning en vullisvermindering met die fokus op papierprodukte. Suid-Afrika herwin tans 46-persent plastiek wat hoër is as die meeste lande. Sewentig-persent papier, 72-persent koeldrankblikkies/metaal en 42-persent glas word herwin. Dit is Saterdag Wêreld-skoonmaakdag, waarop miljoene vrywilligers uit 190 lande teen plastiekafval en besoedeling sal veg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….