Goeie Nuus
BULLETIN 19 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, lei volgende naweek ‘n geskiedkundige reünie van gewese politieke gevangenes op Robbeneiland in die Wes-Kaap. Die tema is: Herenig met Robbeneiland as die vesting wat ons weerstand versterk het om ons vryheid te bereik. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê alle voormalige politieke gevangenes wat op Robbeneiland aangehou is, insluitend dié van Namibië, sal herdenkingsmedaljes ontvang ter erkenning van hul opoffering:
# Dokter Robyn Adams van die Universiteit Stellenbosch se Departement Verloskunde en Ginekologie, is aangewys as Suid-Afrika se ambassadeur by die Internasionale Papillomavirusvereniging. Sy is een van slegs 27 ambassadeurs wêreldwyd en sal vir twee jaar dien. Sy begin met haar pligte by die vereniging se konferensie in Bangkok, Thailand. Adams beoog om opvoeding rakende menslike papillomavirus te versterk, te werk vir die voorkoming van servikale kanker, en wêreldwye samewerking te bevorder om Suid-Afrika se hoë voorkoms van HPV-verwante kankers te verminder, veral onder vroue wat met MIV leef:
# Die Universiteit van Suid-Afrika bied vandag die sesde veeltalige Spelling Bee-kompetisie in Pretoria aan. Die unieke kompetisie daag leerders van Grade 8-tot-11 uit om woorde in verskillende tale te spel om die ryk taal-tapisserie van die land te wys. Dit bestaan uit vier rondes wat ontwerp is om die deelnemers se taalvaardigheid elke keer verder uit te daag. Die wenner vanjaar sal vyf-duisend-rand en ‘n skootrekenaar wen, met die naaswenner wat drie-duisend-500-rand en ‘n tablet sal ontvang en die derdepryswenner sal met twee-duisend-500-rand en ‘n tablet sal wegstap.
# Die Noordwes-universiteit se Fakulteit Gesondheidswetenskappe se Verstaan die wêreld van gesondheid-onderrigspan is met die 2025 Nasionale Universiteit Onderrigtoekenning vereer. Dit gee erkenning aan vernuwende onderrigpraktyke in hoër onderwys wat verder gaan as individuele klaskamers om departementele, institusionele en selfs globale kontekste te vorm. Die Noordwes-universiteit se span is vereer vir hul vernuwende, student-gesentreerde praktyke wat kritiese denke, etiese redenering, probleemoplossing, leierskap en spanwerk bevorder.
# En ten slotte: Batman No. 1, deur die skrywer Matt Fraction en kunstenaar Jorge Jiménez, het meer as 500-duisend kopieë verkoop wat dit dusver die beste verkoper van die jaar maak. Die strokiesboek is ʼn hartlike, selfstandige storie wat Batman se speur-vaardighede en ook sy empatie en menslikheid teenoor ander uitbeeld. Batman No. 1 is uitverkoop by strokiesboekverspreiders en die tweede druk sal van 15 Oktober af in winkels wees. Nog ʼn strokiesboek wat meer as 400-duisend eksemplare verkoop het, is Invincible Universe: Battle Beast No. 1
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….