Nuus 13:00
BULLETIN 19 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi sê Brown Mogotsi het hom gewaarsku oor ‘n komplot om hom te laat sleg lyk
# SAFTU verwerp die Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers onveranderd te laat
# En, Trump en Xi bespreek vandag telefonies handelsbande en die lot van TikTok
# Dit is dag drie van die Madlanga-kommissie van ondersoek en die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het getuig hy is gewaarsku oor ‘n komplot om hom in ‘n slegte lig te plaas. Mkhwanazi sê die sakeman, Brown Mogotsi, wat hy glo verbind word met die misdaadwêreld, het in September verlede jaar WhatsApp-boodskappe aan hom gestuur wat vertroulike polisiedokumente bevat. Hy het die kommissie meegedeel die stap het vrae laat ontstaan oor Mogotsi se noue bande met senior polisiebeamptes en ook met die minister van Polisie Senzo Mchunu:
# Die vakbondfederasie SAFTU sê hy verwerp die Monitêre Beleidskomitee van die Reserwebank se besluit om weer eens die terugkoopkoers onveranderd op 7-persent te hou, as teen werkers en ontwikkeling. ‘n Woordvoerder van SAFTU, Asive Dyani, sê dit beteken die prima-uitleenkoers is steeds op ‘n versmorende 10,5-persent. Sy sê die besluit is ‘n verdere aanduiding dat die komitee voorkeur gee aan inflasieteikens in die eng belang van bankiers en spekulante eerder as die dringende nasionale prioriteit van ekonomiese groei:
# President Donald Trump wat Xi Jinping onlangs beskuldig het dat hy teen Amerika saamsweer, hoop om vandag die lot van die video-toepassing TikTok te finaliseer en vordering te maak met handelsgesprekke wanneer hy die Chinese leier bel. Die oproep sal die tweede een wees sedert Trump in Januarie na die Withuis teruggekeer het. Xi het Trump in Junie uitgenooi om China te besoek. Verskeie ontleders verwag Xi gaan sy uitnodiging herhaal, veral omdat hy weet Trump hou daarvan om met diplomatieke trompetgeskal ontvang te word.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Aimee Barrett-Theron is vanaand in beheer van die eerste halfeindstryd in die Vroue-Wêreldbeker tussen die hersende kampioen, Nieu-Seeland, en Kanada by die Ashton Gate Stadion in Bristol, England. Dit is 49ste wedstryd met die fluitjie vir Barrett-Theron en ‘n rekord 12de Wêreldbekerwedstryd. Maggie Cogger-Orr van Nieu-Seeland is in beheer van die tweede halfeindstryd tussen Frankryk en die gasvroue, England. Die voorsitter van die Wêreldrugbywedstrydbeamptekomitee, Su Carty, sê Barrett-Theron en Cogger-Orr sal die wedstrydbeamptes met trots en onderskeiding verteenwoordig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-884-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-656-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-58-sent per vat.
# En laastens, ontvolkte dorpe in Duitsland se voorheen kommunistiese Ooste het ‘n ongewone manier bedink om weer lewe te kry. Hulle bied weke lank baie goedkoop verblyf aan mense om moontlike inwoners ʼn voorsmaak van die plek te gee. Die “proeftydperk”-projek wil halfverlate gemeenskappe nuwe lewe gee met die 35ste herdenking van Duitsland se eenwording op 3 Oktober. Een van hierdie dorpe is die klein dorpie, Guben, op die Poolse grens. Voornemende inwoners betaal net twee-duisend-rand per week vir vier weke met die moontlikheid om daar te gaan woon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….