Nuus 12:00
BULLETIN 19 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa onderneem om op te tree oor die Madlanga-kommissie se bevindings
# Die staatsdiensvakbond verwelkom die uitgebreide korrupsie-ondersoek by die Departement van Water en Sanitasie
# En, die VN waarsku klimaatsverandering veroorsaak chaos met die wêreldwatersiklus
# President Cyril Ramaphosa het hom verbind om op te tree wanneer die Madlanga-kommissie se bevindings bekendgemaak word. Die kommissie wat bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel moet ondersoek, het Woensdag begin. Die tussentydse verslae sal na verwagting binne drie tot ses maande beskikbaar wees. Ramaphosa het aan die SABC gesê van die dinge wat reeds uitgekom is, is skokkend en kommerwekkend:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het president Cyril Ramaphosa se besluit om die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek by die Departement van Water en Sanitasie uit te brei, verwelkom. Die ondersoek na bewerings van ernstige wanbestuur in die departement sal nou die Drop the Block-projek en sy implementeringsagent, Lepelle Northern Water in Limpopo insluit. Claude Naicker van die vereniging sê dié uitbreiding wys toenemende kommer oor wanbestuur, korrupsie en misbruik van fondse in die departement:
# Klimaatsverandering veroorsaak toenemend wêreldwye wisselvallige en uiterste veranderings tussen vloede en droogtes, met ‘n stortvloed van uitwerkings op samelewings. Die VN se Wêreld Meteorologiese Organisasie het in ‘n verslag gesê die wêreld se watersiklus word al hoe meer onvoorspelbaar, met gletsers wat krimp, droogtes, ongebalanseerde rivierkomme en ernstige vloede wat verwoesting saai. Die agentskap se jaarverslag oor die stand van globale waterbronne toon baie duidelik hoe die watersiklus toenemend wisselvallig word, met ‘n uitwerking op infrastruktuur, landbou, energie, gesondheid en ekonomiese bedrywighede.
# Tennis: Die halfeindronde van die Billie Jean Kingbeker in China het aangebreek. Die verdedigende kampioen, Italië, en Oekraïne sal mekaar vandag pak na kwarteind-oorwinnings oor onderskeidelik die gasvroue en Spanje. Môre speel Amerika teen Groot-Brittanje. Amerika het Kazakstan 2-1 uitgeskakel. Emma Navarro het Yulia Putintseva geklop en Elena Rybakina het die telling gelykop gemaak deur Jessica Pegula te verslaan, waarna Pegula en Taylor Townsend vir Rybakina en Putintseva verslaan het in die beslissende dubbelswedstryd. Groot-Brittanje het albei sy enkelwedstryde teen Japan gewen. Die eindstryd word Sondag gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-140-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-653-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Batman No. 1, deur skrywer Matt Fraction en kunstenaar Jorge Jiménez, het meer as 500-duisend kopieë verkoop wat dit dusver die beste verkoper van die jaar maak. Die strokiesboek is ‘n hartlike, selfstandige storie wat Batman se speur-vaardighede en ook sy empatie en menslikheid teenoor ander uitbeeld. Batman No. 1 is uitverkoop by strokiesboekverspreiders en die tweede druk sal van 15 Oktober af in winkels wees. Nog ʼn strokiesboek wat meer as 400-duisend eksemplare verkoop het, is Invincible Universe: Battle Beast No. 1
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….