Nuus 08:00
BULLETIN 19 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering sal een-duisend-miljard-rand belê om infrastruktuur te verbeter
# Hamas sê Netanyahu het die doodsvonnis van die gyselaars onderteken met sy inval in Gazastad
# En rugby: Die Griekwas maak slegs een verandering aan hul beginspan vir die Beker-eindstryd
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering onderneem om oor die volgende drie jaar meer as een-duisend-miljard-rand te belê om openbare infrastruktuur en landsburgers se lewenstandaard te verbeter. Hy het gister by ‘n geleentheid van die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur en LUR’e in Gqeberha in die Oos-Kaap gepraat. Mashatile sê infrastruktuur-dienslewering is nie net die bou van paaie, brûe of geboue nie, maar lê die grondslag vir ʼn voorspoedige en volhoubare toekoms:
# Eskom sê hy neem kennis van die Appèlhof se uitspraak wat die omgewingsgoedkeuring vir die voorgestelde gekombineerdesiklus-gaskragaanleg van drie-duisend megawatt in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, tersydestel. Die hof het bevind daar was onvoldoende openbare deelname en daar is nie met kwesbare gemeenskappe beraadslaag nie. Hy voer ook aan ander hernubare energiebronne of kumulatiewe omgewingsgevolge is nie oorweeg nie. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle bestudeer die uitspraak en oorweeg hul volgende stappe:
# Die burgemeester van Johannesburg Dada Morero sê hulle verstaan die frustrasie van inwoners van Coronationville en Westbury wat steeds sonder water is. Hy het gister met die gemeenskap van Coronationville geskakel. Hy sê hoewel toevoer in sekere gebiede herstel is, verhinder voortgesette vandalisme en sabotasie van die stad se infrastruktuur die herstelpogings. Hy sê meer as 20 watertenkwaens is ontplooi om tydelik te help terwyl spanne voortgaan om die agterstand met herstelwerk in te haal:
# Hamas sê eerste minister Benjamin Netanyahu se grondinval op Gazastad beteken Israel het geen kans meer om gyselaars, lewend of dood, uit die gebied te kry nie. Van die 48 gyselaars wat nog in Gaza aangehou word, lewe 20 vermoedelik nog. Israel het Woensdag sy inval op die buitewyke van Gazastad begin. Meer as 100 Palestyne is dood en minstens 17 huise, woonstelle en ʼn moskee is vernietig. Hamas sê hulle maak gereed om te veg en waarsku Gaza sal ʼn begraafplaas wees vir Israelse soldate.
# Rugby: Griekwas se begin-vyftiental vir môre se Curriebeker-eindstryd teen die Leeus toon net een verandering van die span wat die Cheetahs in verlede week se halfeindstryd in Kimberley verslaan het. Die slot Derik Pretorius vervang Malembe Mpofu, wat nie sy kopbeseringstoets geslaag het nie, terwyl Marco de Witt dekking op die bank bied. Phumzile Maqondwana is die reserwe-losvoorspeler. Die Leeus word as volslae gunsteling beskou om die titel tuis in Johannesburg te beklink nadat hulle twee weke gelede die Noord-Kaapse span 37-7 verslaan het in ‘n ronde-wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-272-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-651-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….