Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie gesê die inhegtenisneming van misdaadintelligensiebaas luitenant-generaal Dumisani Khumalo was bedoel om die werk van die politieke moordtaakspan te vertraag.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die waterkrisis in Johannesburg en die politiekery daaragter.
En berig oor die bekgeveg oor oud-adjunkpresident David Mabuza se nalatenskap.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die argitek agter die moord op die besturende direkteur van die City Med-daghospitaal in Bloemfontein, dokter Louis Siemens, is tot 20 jaar gevonnis. Die regter het gesê Stanley Kibi Bakili het die moord uit geldgierigheid beplan.
Dan skryf die webblad Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste polisieminister Senzo Mchunu het nou bande gehad met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en hy het baie voordele geniet.
En laastens word berig die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero het homself na bewering vererg toe inwoners hom beskuldig dat hy nie sy beloftes nakom nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf uit Mkhwanazi se getuienis voor die Madlanga-kommissie is dit duidelik dat daar nog baie skokkende onthullings na vore gaan kom.
En tweedens word berig die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia sê daar gaan voorkeur verleen word aan die moorde op fluitjieblasers en staatsaanklaers.
# Sowetan:
Berig ook Mkhwanazi het verdere onthullings gedoen oor Mchunu. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê Mchunu het noue bande met verskeie sindikaatleiers gehad.
# En The Citizen:
Skryf die pa van die vermoorde Leigh Matthews, Rob, sê hy het talle vrae om aan haar moordenaar Donovan Moodley te vra. Hy wil weet of Moodley alleen gewerk het en waar sy dogter vir elf dae aangehou is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die saak teen Jacques Pretorius vir die moord op sy vrou Sheri-Ann. Haar liggaam is in 2021 in die badkamer van hul huis aangetref en selfdood is aangevoer. Dit het in die hof aan die lig gekom dat Sheri-Ann voor die vermeende moord ‘n brief aan haar pa geskryf het.
En tweedens skryf die koerant ‘n tegniese punt het die raad van die Stellenbosch-munisipaliteit na bewering gekeer om die omstrede menslike-hulpbronbestuurder, Alexander Kannenmeyer te skors.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die herstrukturering van Coca-Cola Suid-Afrika kan ook talle poste in die Oos-Kaap raak.
En tweedens skryf die koerant sewe onderwysers is geskors oor skokkende aantygings van seksuele teistering.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van Kwazulu-Natal, Thami Ntuli het sy kommer uitgespreek oor die veiligheid by skole en besluit om self in te gryp.
En tweedens is daar ‘n berig oor die reuseprobleem van aanlyn dobbel waar mense duisende rand verkwansel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig landdroste kla dat verhogings in behuisings- en voertuigtoelaes, wat vanaf 1 April 2025 van krag is, reeds in die Staatskoerant afgekondig is maar nog nie betaal is nie.
En tweedens skryf die koerant ’n bankkaartmasjien wat in Julie deur polisie-intelligensie gekonfiskeer is, word vermoedelik gekoppel aan een van Namibië se mees gesofistikeerde finansiële swendelsake.