Nuus 18:00
BULLETIN 18 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi onthul Vusimuzi “Cat” Matlala het onregmatige polisievoorregte geniet
# Die Reserwebank hou die terugkoopkoers onverandered op sewe-persent
# En atletiek: Sinesipho Dambile van Suid-Afrika dring deur na die eindronde van die 200-meter in Tokio
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala, wat tans in aanhouding is op aanklag van poging tot moord, het onregmatige polisievoorregte geniet. Hy het in Pretoria aan die Madlanga-kommissie gesê Matlala se privaat voertuie is bedrieglik as munisipale motors geregistreer en toegerus met blou ligte, na bewering deur ‘n senior amptenaar van Ekurhuleni se Metropolisiedepartement. Mkhwanazi het bevestig ‘n selfoon is ook in Matlala se tronksel gevind:
Mkhwanazi sê ook dis noodsaaklik om samewerking tussen die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag, die howe en Korrektiewe Dienste te beskerm. Hy waarsku eksterne inmenging of interne magte wat die regstelsel probeer ontwrig, kan pogings ondermyn om geregtigheid doeltreffend aan gemeenskappe te bied. Mkhwanazi voeg by die taakspan vir politieke moorde speel ‘n belangrike rol in die stryd teen misdaadsindikate:
# Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers op sewe-persent te hou en die prima-uitleenkoers op 10.5-persent. Die president van die sentrale bank, Lesetja Kganyago, sê die besluit, wat deur vier van die ses komiteelede ondersteun word, weerspieël die verwagting dat inflasie in die komende maande sal styg, en ‘n hoogtepunt van vier-persent sal bereik. Hy dui aan die bank verwag dat die inflasiekoers vanjaar gemiddeld 3,4-persent sal wees en volgende jaar gemiddeld 3,6-persent:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het Suid-Afrika se deelname bevestig aan volgende week se 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Ntshavheni sê president Cyril Ramaphosa sal die afvaardiging lei, met die fokus op multi-lateralisme, menseregte, volhoubare ontwikkeling en vreedsame konflikoplossing. Sy lig ook Suid-Afrika se gevorderde agenda van sy G20-presidentskap uit en belangrike bilaterale en sake-vergaderings:
# Atletiek: Sinesipho Dambile van Suid-Afrika het gekwalifiseer vir die 200-meter-eindronde op die wêreldkampioenskap in Tokio, Japan, deur derde te eindig in sy halfeind-uitdun. Sy landgenoot Wayde van Niekerk is egter uitgeskakel toe hy slegs die 11de-vinnigste tyd opgestel het. Die Amerikaner Noah Lyles is ‘n ernstige aanspraakmaker op die titel nadat hy ‘n skittertyd van 19,51-sekondes opgestel het. Ander deelnemers is die Olimpiese kampioen, Letsile Tebogo van Botswana, en die Amerikaner Kenneth Bednarek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-879-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-636-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….