Nuus 17:00
BULLETIN 18 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi is bekommerd oor die LP’s Fadiel Adams en Dianne Kohler Barnard se toegang tot geklassifiseerde inligting
# Die MK-party se hofgeding teen die Madlanga-kommissie word van die rol geskrap
# En die terugkoopkoers bly onveranderd
# Die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het voor die Madlanga-kommissie kommer uitgespreek oor parlementslede wat toegang het tot geklassifiseerde intelligensie-inligting. Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, en Dianne Kohler Barnard van die DA word daarvan beskuldig dat hulle toegang gehad het tot sensitiewe inligting wat hulle nie veronderstel was om te sien nie. Mkhwanazi sê Adams het die inligting onbehoorlik gebruik en sake oor polisie-inmenging in Kaapstad en Gauteng geopen, maar ondersoeke kon geen getuienis vind om sy bewerings te steun nie:
Die MK-party se regsgeding om die kommissie se ondersoek te verhoed, is intussen van die rol geskrap. Leier Jacob Zuma en die MK-party het die hof versoek om die saak op ‘n tegniese punt nie van die hand te wys nie. Advokaat Dali Mpofu, wat die party verteenwoordig, het president Cyril Ramaphosa beskuldig dat hy probeer het om te verhoed dat die saak se meriete aangehoor word. Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die saak is nie dringend nie.
# Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers op sewe-persent te hou en die prima-uitleenkoers op 10.5-persent. Dit volg nadat inflasie vir Augustus 3.3-persent was, vergeleke met 3.5-persent in Julie. Die bank se inflasieteiken is nou drie-persent.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet is verheug oor die jongste vorderingsverslag van die Presidensiële Jeugwerkgroep vir April tot Junie. Meer as 5,6-miljoen jongmense het geregistreer op die Nasionale Bestuursnetwerk, wat die teiken van vyf-miljoen oortref, en 1,9-miljoen jongmense het geleenthede vir tydelike inkomste benut. Ntshavheni sê dit weerspieël die regering se verbintenis om jeugwerkloosheid deur uitbreibare ingrypings aan te pak:
Nuus uit die buiteland:
# Katar het met die president van die Internasionale Strafhof vergader terwyl hy regstappe teen Israel wil doen oor verlede week se ongekende aanval op sy grondgebied. Die emiraat se hoofonderhandelaar, Mohammed al-Khulaifi, en regter Tomoko Akane het in Den Haag ontmoet terwyl Katar elke beskikbare regs- en diplomatieke moontlikheid nastreef om aanspreeklikheid te verseker vir diegene wat verantwoordelik is vir Israel se aanval. Die dodelike aanval het leiers van die militantegroep Hamas geteiken wat in Katar gebaseer is en het skokgolwe deur die Golfstate gestuur.
# Tennis: Die gewese Keniaanse Davisbekerspeler Eno Polo is die nuwe uitvoerende hoof van die beheerliggaam vir die mans-beroepspel, die ATP. Die 58-jarige Polo volg Massimo Calvelli op nadat die Italianer in Junie ná vyf jaar in die rol bedank het. Polo sal toesig hou oor die ATP se wêreldwye bedrywighede en die OneVision-hervormingsplan voortsit. Dié plan moet die sport laat groei, meer aanhangers lok en verhoogde waarde vir spelers, toernooie en vennote in die lang termyn lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-489-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-653-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….