Nuus 14:00
BULLETIN 18 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi sê vyf inhegtenisnemings uit 121 politieke moorddossiere is nie uitgevoer nie
# Drie mans sterf in nog ‘n bendeverwante skietery in Mitchells Plain
# En krieket: Dewald Brevis sê sy reuse-koopprys in die SA20 gaan hom nie verander nie
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê vyf inhegtenisnemings is nie uitgevoer nie uit 121 politieke moorddossiere wat oorgeplaas is na die nasionale polisiehoofkantoor in Pretoria. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê hoewel die dossiere geskandeer en geoudit is voor oorhandiging, is die opdrag om verdagtes aan te keer, nie nagekom nie:
# Die polisie se teen-bende-eenheid in Kaapstad ondersoek nog ‘n dodelike skietery nadat drie mans, onderskeidelik 20-, 23- en 32-jaar oud, gisteraand in Westridge in Mitchells Plain dood is. ‘n Polisiewoordvoerder sê die skietery is na berigte bendeverwant. Die jongste moorde was op die vooraand van vandag se debat in die provinsiale wetgewer oor die toenemende geweldsmisdade in die Wes-Kaap en die verwoestende uitwerking daarvan op gemeenskappe. Verskeie skietvoorvalle wat vermoedelik verskeie mededingende bendes betrek, is gister ook in Manenberg aangemeld.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het Transnet se Nasionale Hawe-owerheid opdrag gegee om die huurkontrakte by Durban se Island View-gebied te hernu en toegang vir die Sentrale Energiefonds te waarborg. Die 25-jaar-oue opdrag poog om hervorming met energiesekerheid te balanseer en ruimte te skep vir opkomende swart deelnemers. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, het bevestig Creecy het ook ‘n nuwe Enkelboei-vasmeerplek gemagtig en Astron Energy se Kaapstadse huurkontrak hernu om energiesekerheid ten opsigte van raffinaderye te versterk:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump sê hy sal “Antifa”, ‘n verkorting van “anti-fascisties”, gebruik om ultra-linkse groepe tot ‘n groot terroriste-organisasie te verklaar. Hy het Antifa nou al lank die skuld gegee vir verskeie wandade, van geweld teen die polisie tot bewerings dat dit onluste by die Amerikaanse parlementsgebou in Januarie 2021 aangevuur het teen Joe Biden se verkiesings-oorwinning. Trump beskryf Antifa as ‘n siek, gevaarlike, radikale linkse ramp. Dit het geen hoof of nasionale organisasie nie en is skynbaar saamgestel deur onafhanklike, eendersdenkende groepe.
# Krieket: Die Protea-kolwer Dewald Brevis sê die reuse-koopprys wat hy in die SA20 losgeslaan het, gaan hom nie verander nie en hy gaan steeds op die veld om homself te geniet. Pretoria Capitals het die 22-jarige gekoop vir ‘n allemintige 16,5-miljoen-rand gedurende verlede week se spelersveiling nadat hy die eerste drie seisoene vir die verdedigende kampioen, M-I Cape Town, gespeel het. Brevis, wat in Gauteng grootgeword het, beskryf sy tyd in Kaapstad as baie spesiaal, maar is opgewonde om na sy tuisstad terug te keer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-170-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-669-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….