Nuus 11:00
BULLETIN 18 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die Madlanga-kommissie moet geen steen onaangeroer laat om ongerymdhede te ontbloot nie
# ABC onttrek Jimmy Kimmel se program oor sy kommentaar oor Charlie Kirk
# En rugby: Jake Gordon is terug in die Wallabies se groep vir die twee toetse teen die All Blacks
# Die ANC sê die Madlanga-kommissie se werk sal ‘n belangrike rol speel om vertroue in die regering te herstel en demokratiese aanspreeklikheid te versterk. Die kommissie se sitting het gister in Pretoria begin met getuienis deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die kommissie moet bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. ʼn ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die stryd teen korrupsie is ononderhandelbaar:
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA het ‘n nuwe vyfjaar-loonooreenkoms met South32 Hillside Aluminium verwelkom. Die ooreenkoms maak voorsiening vir jaarlikse verhogings tot 2030, van 5,5- tot ses-persent afhangende van die onderskeie poskategorieë. Dit is meer as die huidige inflasiekoers van 3,3-persent. Werkers sal ook jaarlikse erosievoordele vir mediese fondse en ‘n eenmalige ondertekeningsbonus van 20-duisend-rand ontvang. Phakamile Hlubi-Majola van NUMSA sê die ooreenkoms verseker verbeterde voortbestaan vir lede en hul gesinne:
# Die UDM in Johannesburg is bekommerd oor die toenemende krisis van gekaapte en onveilige geboue, en veral staatsgeboue, in die metro. Yongama Zigebe van die party sê die tragiese Usindiso-brand in 2023, wat 77 lewens geëis het, is ʼn pynlike herinnering aan wat gebeur wanneer owerhede versuim om op te tree. Hy sê onlangse berigte oor gesinne wat in die ou polisie-gebou in Yeoville bly, beklemtoon die ingewikkelde werklikhede waarmee die metro te kampe het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Disney-kanaal ABC het die gewilde laatnagprogram, Jimmy Kimmel Live, onbepaald onttrek. Dit kom te midde van omstredenheid oor Kimmel se onlangse opmerkings oor die dood van Charlie Kirk, wat tydens ʼn geleentheid by Utah Valley University doodgeskiet is. Tyler Robinson word aangekla van die aktivis se moord. Kimmel het Maandagaand in sy monoloog gesê die MAGA-beweging probeer politieke punte aanteken na Kirk se dood. Hy het ook met president Donald Trump se reaksie op die skietery gespot.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het sy groep van 34 bekendgemaak wat Nieu-Seeland in die laaste twee rondes van die Rugbykampioenskap gaan pak. Dit bestaan uit 19 voor- en 15 agterspelers. Die stut James Slipper kan sy 150ste verskyning maak en aansluit by Alun-Wyn Jones van Wallis en die All Black, Sam Whitelock, wat die enigste spelers is wat nog hierdie mylpaal kon bereik. Die skrumskakel Jake Gordon, wat die eerste vier wedstryde van die kampioenskap misgeloop het, is terug na ‘n besering. Nog ‘n skrumskakel, Ryan Lonergan, is die enigste nuweling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44 sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-74 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-172 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-639 dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-41-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….