Nuus 09:00
BULLETIN 18 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s sê Suid-Afrika se ekonomie sal met minder as 1,5-persent oor die volgende twee jaar groei
# Die Forum for SA eis dat minister Mchunu afgedank word
# En Koning Charles prys Donald Trump se pogings om oplossings vir hardnekkige konflikte te vind
# Die graderingsagentskap, Moody’s, verwag Suid-Afrika se ekonomie sal oor die volgende twee jaar met minder as 1,5-persent per jaar groei. Dis minder as die byna 5-persent wat vir Afrika suid van die Sahara voorspel word. Moody’s sê hy verwag Amerikaanse tariewe sal slegs ‘n matige uitwerking op die land hê, maar kleiner aanvraag uit belangrike markte soos China sal groei belemmer. Hy sê politieke, maatskaplike en ander beperkings kniehalter die pas waarteen basiese krediet verbeter. Moody’s sê die plaaslike verkiesing in 2026 kan die bestendigheid van die land se koalisieregering toets.
# Die Forum for South Africa sê hy loof KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, vir sy dapperheid en eerlikheid om op te staan teen korrupsie en politieke inmenging. Mkhwanazi het gister voor die Madlanga-kommissie getuig waar hy sy bewering herhaal het dat die taakspan oor politieke moorde onwettig in opdrag van die huidig geskorste Polisieminister, Senzo Mchunu, ontbind is. Die forumwoordvoerder Tebogo Mashilompane sê Mchunu moet onmiddellik afgedank word:
# Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê drie vuurwapens waarop beslag gelê is, ‘n AK-47 en twee pistole, wat verband hou met sake teen Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en die misdaadfiguur, Katiso ‘KT’ Molefe, word forensies verbind aan 18 geweldsmisdade. Mathe sê die wapens hou verband met aanvalle op DJ’s Sumbody, Vinto en Vettis. Matlala se borgtogaansoek is gister in die Landdroshof in Alexandra geweier. Die polisie soek ook na nog ‘n AK-47 wat verbind word aan die aktrise Tebogo Thobejane se saak:
# Koning Charles het klem gelê op die diepe verbintenis tussen die Verenigde Koninkryk en Amerika, en die behoefte om kulturele, militêre en handelsbande in stand te hou. Hy het president Donald Trump en sy vrou, Melania, gisteraand by Windsor-kasteel met ʼn feesmaal onthaal. Trump is op sy tweede geskiedkundige staatsbesoek aan die land waar hy na verwagting vandag eerste minister Keir Starmer sal ontmoet. Koning Charles het Amerika se ondersteuning vir Oekraïne gevra om die magte van tirannie te beveg:
Sokker: Paris Saint-Germain het goed weggespring toe hulle hul titel in die Kampioeneliga teen Atalanta met 4-0 verdedig het. PSG se kaptein, Marcos Aoás Corrêa, en Khvicha Kvaratskhelia het gesorg vir ‘n voorsprong van 2-0 teen rustyd, waarna Nuno Mendes vroeg in die tweede helfte die doelhok gehaal het en Gonçalo Ramos ‘n vierde doel in beseringstyd bygevoeg het. Verlede seisoen se naaswenner, Inter Milan, het Ajax met 2-0 geklop. Engeland se doelskieter Harry Kane het twee doele vir Bayern München aangeteken in hul oorwinning van 3-1 oor Chelsea. Liverpool se kaptein, Virgil van Dijk, het in hul wedstryd teen Atletico Madrid die bal laat in die wedstryd in die doelhok gekry om met 3-2 te seëvier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41 sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-71 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-719 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-657 dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-46-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….