Nuus 07:00
BULLETIN 18 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse handelsverteenwoordiger vergader met minister Tau in ‘n poging om die dooiepunt oor tariewe op te los
# Judges Matter sê die MK-party se regsuitdaging oor die Madlanga-kommissie is onregverdigbaar
# En die DA sê burgemeester Morero sal aanspreeklik gehou word vir die voortslepende waterkrisis
# Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, en die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, ontmoet na verwagting vandag in New York. Die doel is om die 30-persent tariewe wat Amerika op Suid-Afrikaanse uitvoere ingestel het, te bespreek. Die land se onderhandelingspan het ‘n hersiene voorstel voorgelê om ʼn laer tarief te bewerkstellig. Amerika en Suid-Afrika se verhouding het ʼn laagtepunt bereik sedert president Donald Trump in Januarie aan bewind gekom het. Trump het alle hulp aan die land gestaak en sê hy diskrimineer teen sy wit minderheid.
# Mbekezeli Benjamin van Judges Matter sê die MK-party se regsgeding oor die wettigheid van die Madlanga-kommissie van ondersoek is ongegrond. Die kommissie het gister begin met die ondersoek na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die bewerings sluit in politieke inmenging en misdaadsindikate se infiltrasie van wetstoepassing en die regbank. Benjamin het in ‘n onderhoud met SABC News beklemtoon bewerings moet gestaaf word en hy hoop regbankverwante bewerings sal voorkeur geniet om die integriteit van die regstelsel te beskerm:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika se swak ekonomie en elektrisiteitstariewe maak dit toenemend moeilik vir inwoners om die elektrisiteit wat hulle gebruik, te betaal. Munisipaliteite skuld saam meer as 400-miljard-rand, en hulle skuld Eskom net meer as 100-miljoen-rand. Ramogkopa sê weens klante se onvermoë om te betaal, wend meer inwoners hulle na onwettige verbindings wat druk op die netwerk plaas. Hy sê ʼn belangrike stap om die skuldprobleem aan munisipaliteite op te los, is om toe te slaan op onwettige verbindings.
# Die DA in Gauteng sê hy is tevrede dat burgemeester Dada Morero en Johannesburg Water se besturende direkteur, Ntshavheni Mukwevho, aanspreeklik gehou sal word vir die toenemende waterkrisis in die metro. Die twee verskyn môre voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie. Inwoners van buurte soos Westbury, Coronationville en Westdene het al meer as twee weke lank probleme met watervoorsiening. Stephen Moore van die DA sê die burgemeester het toegelaat dat die probleem vererger:
# Die weduwee van die ontslape Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, Yulia Navalnaya, sê buitelandse laboratoriumtoetse het bevestig hy is vergiftig. Die 47-jarige Navalny is in Februarie 2024 in ‘n Russiese tronk dood. Navalnaya, wat Moskou reeds lank beskuldig dat hy vermoor is, het ‘n video op X geplaas waarin sy beweer twee laboratoriums in verskillende lande het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Sy het geëis dat die bevindings bekendgemaak word en het Russiese bewerings verwerp dat hy aan natuurlike oorsake dood is.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Danie van Niekerk en James Mack het die pas aangegee met rondes van vier onder baansyfer 67, en loop gesamentlik voor na die eerste ronde van die Sunbet Challenge by die Umhlali-buiteklub in KwaZulu-Natal. Hulle is een hou voor hul landgenoot, Lyle Rowe, en Eric Wowor van Indonesië. Van Niekerk, wat probeer om sy eerste sege op die Sonskyn-toer te behaal, sê hy het homself in ʼn sterk posisie geplaas om die toernooi van 54 putjies te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-560-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-655-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….