Nuus 06:00
BULLETIN 18 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi sê vir die Madlanga-kommissie minister Senzo Mchunu is betrokke by ‘n misdaadsindikaat
# Weermaglede verskyn in die hof op aanklagte van sigaretsmokkelary
# En atletiek: Van Niekerk en Dambile hardloop in die 200 meter-halfeindstryd in Tokio
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het voor die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig dat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, ten volle betrokke is by misdaadsindikate. President Cyril Ramaphosa het Mchunu in Julie op onmiddellike verlof geplaas oor bewerings dat hy met sindikate saamwerk en by hoëprofiel-ondersoeke inmeng. Mkhwanazi het aan die einde van die eerste dag van die verhore, Mchunu met die sakemanne Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en Katiso ‘KT’ Molefe verbind, wat beskuldig word dat hulle misdaadnetwerke bedryf:
Mkhwanazi sê ook Mchunu se besluit om die politiekemoord-taakspan te ontbind, was irrasioneel en buitengewoon en is geneem sonder enige raadpleging. Mkhwanazi het gesê die besluit het ernstige gevolge gehad, met 121 dossiere wat aan gewone speurders oorhandig is. Hy sê politieke inmenging het moontlik die besluit beïnvloed:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê sy vertrou die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het pogings verskerp om bedrog en korrupsie binne die toelaestelsel uit te roei. Die agentskap het verskeie sekerheidsmaatreëls bygevoeg om te verseker dat alle regmatige begunstigdes hul finansiële toelae ontvang. Tolashe sê die Biometriese Aansluiting vir Begunstigdes is een van die inisiatiewe wat al die bedrieglike elemente in die toelaestelsel sal stuit. Sy sê die standvastige leierskap by SASSA is daarop gerig om staatsfondse te beveilig.
# Vyf weermaglede en twee ongedokumenteerde Zimbabwiërs sal vandag in Musina se Landdroshof in Limpopo verskyn op aanklag van die vermeende diefstal van ‘n besending onwettige sigarette naby die Limpopo-rivier. Skote is volgens berigte afgevuur, wat die smokkelaars gedwing het om die 24 kartonbokse agter te laat. Ses bokse is later in ‘n tydelike militêre kamp gevind. Polisiewoordvoerder Hlulani Mashaba sê die lede staan tereg op aanklag van die besit van onwettige sigarette, die onwettige afvuur van vuurwapens en regsverydeling:
# Die president van Rusland, Vladimir Putin, en Narendra Modi van Indië se vriendskap en gemoedelike verhouding is benadruk met ‘n telefoongesprek, ten spyte van druk deur Washington oor die groeiende bande tussen die twee lande. Die Amerikaanse president Donald Trump het hoër tariewe teen Indië gehef. Die land is ‘n belangrike aankoper van Russiese olie te midde van Westerse sanksies teen Moskou oor sy oorlog teen Oekraïne. Die Russiese en Indiese leiers het per telefoon gesels ‘n dag nadat Modi samesprekings met Trump gevoer het oor die konflik met Oekraïne en die tariewe.
# Atletiek: Die wêreldrekordhouer in die 400-meter, Wayde van Niekerk, en sy Suid-Afrikaanse landgenoot Sinesipho Dambile neem vanmiddag deel aan die halfeindronde van die 200-meter op die wêreldkampioenskap in Tokio, Japan. Van Niekerk, wat tydens verlede jaar se Olimpiese Spele in Parys na die korter wedloop oorgeskakel het, het tweede gekom in sy uitdun terwyl Dambile derde was in syne. Hulle sal strawwe teenstand kry van naellopers soos Bryan Levell van Jamaika, Tapiwanahe Makarawu van Zimbabwe en die Amerikaner Courtney Lindsey, wat die vinnigste kwalifiserende tye behaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-612-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-669-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….