Goeie Nuus
BULLETIN 17 September
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Dit is vandag Internasionale Countrymusiek-dag waarop een van die wêreld se gewildste musiekgenres gevier word. Countrymusiek het sy oorsprong in die landelike suide van Amerika en sy wortels is in blues, kerk- en Amerikaanse volksmusiek. Dis ook vandag Hank Williams se verjaarsdag. Hy is een van die invloedrykste countrymusiek-kunstenaars van die 20ste eeu. Sy treffers sluit gewilde liedjies in soos Hey, Good Lookin’ en Your Cheatin’ Heart. Ander gewilde countrymusiek-kunstenaars is Dolly Parton, Tim McGraw, Willie Nelson, Carrie Underwood, Keith Urban en Shania Twain.
# ‘n Groep bekende plaaslike kunstenaars, Mzansi Jikelele, sal Suid-Afrika Saterdag verteenwoordig op die InterVision-musiekkompetisie in Rusland. Die groep, wat aansluit by deelnemers uit 22 ander lande in hierdie multikulturele viering, sal ʼn oorspronklike komposisie opvoer met die titel, Home. Suid-Afrika se teenwoordigheid word verder versterk deur die beroemde sanger, digter en aktivis, Ntsiki Mazwai, wat gekies is om op die internasionale jurie-paneel te dien. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Mzansi Jikelele verteenwoordig die veerkragtigheid, verskeidenheid en talent van Suid-Afrikaners.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Departement van Uitvoerende Kunste se senior dosent en bekroonde jazz-pianis, Roland Moses, is uitgenooi na die Villa-Lobos Instituut by die Federale Universiteit van die Staat van Rio de Janeiro in Brasilië. Hy sal meesterklasse, slypskole, gemeenskapsprojekte en ʼn konsert aanbied. TUT sê die meestersklasse sal handel oor Suid-Afrika se musiekerfenis, met ʼn spesifieke fokus op sy ritmiese en harmonieuse taal, en hul kruising met jazz-improvisasie en uitvoeringspraktyk.
# Justin Bieber, Sabrina Carpenter en Karol G is die hoofkunstenaars op die 2026 Coachella Valley-musiek- en Kunstefees by die Empire Polo Club in Indio, Amerika. Dit is die eerste optrede vir al drie kunstenaars in die Kaliforniese woestyn. Carpenter sal Vrydag die verhoog betree, met Bieber en Karol G wat onderskeidelik Saterdag en Sondag as hoofkunstenaars op die verhoog sal verskyn. Ander kunstenaars op Noord-Amerika se grootste musiekfees sluit in The Strokes, Young Thug, Addison Rae, Nine Inch Noize en FKA twigs. Sowat 250-duisend aanhangers word verwag.
# En ten slotte: Drie bewaringbestuurs-studente van die Nelson Mandela Universiteit se George-kampus het erkenning gekry op die Suid-Afrikaanse Natuurlewe-bestuursvereniging, SAWMA, se konferensie. Elizabeth Kennedy Overton is vereer vir die beste PhD-voorlegging vir: Spoorsny jagluiperds: kwantifiseer jagsukses deur ʼn oeroue spoorsnymetode. Die beste MSc Full Talk-toekenning is toegeken aan Yasmin Markides vir: Modelleer funksionele verspreidingsroetes na Malawi se beskermde gebiede vir Afrika-wildehond en -leeu. Marna Visagie se aanbieding oor groot vleisvretende diere was naaswenner in die kategorie, MSc Full Talk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….