Nuus 14:00
BULLETIN 17 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Madlanga waarsku as Mkhwanazi se bewerings waar is, kan dit rampspoedig wees vir die strafregstelsel
# Jaarlikse inflasie daal tot 3,3-persent in Augustus
# En rugby: Erasmus behou geloof in die kern-Bokgroep vir die toetse teen Argentinië
# Die afgetrede adjunkhoofregter, Mbuyiseli Madlanga, sê as die bewerings van die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, waar is, kan dit rampspoedig wees vir die strafregstelsel. Hy het die regtelike kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie geopen en gesê infiltrasie of onregmatige invloed kan die oppergesag van die reg en die grondwetlike demokrasie bedreig. Madlanga beskryf korrupsie, intimidasie en inmenging as ‘n kanker binne die stelsel:
Die DA-lid Lisa Schickerling sê intussen Mkhwanazi se bewerings het die publiek se vertroue geskend. Sy sê die kommissie moet politieke inmenging en misdadige infiltrasie sonder vrees of begunstiging blootlê:
# Statistieke Suid-Afrika sê die jaarlikse verbruikersprysinflasie het in Augustus tot 3,3-persent verlangsaam, minder as die 3,5-persent in Julie. Die hoofdirekteur van prys-statistieke, Patrick Kelly, sê laer voedsel- en brandstofpryse het gehelp om die koers te verlaag. Jaarlikse inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het tot 5,2-persent gedaal en brandstof het met 5,7-persent gedaal. Kelly sê stapelvoedsel, insluitend graankosse en witrys, is goedkoper, maar beesvleis en sekere groente bly duur:
# Die adjunkminister van Finansies, Ashor Sarupen, versoek regerings, die privaat sektor, ontwikkelings-befondsingsinstellings en multilaterale vennote om bevorderlike omgewings vir klein, medium en mikro-ondernemings te skep. Sarupen het tydens ‘n G20-byeenkoms in Johannesburg beklemtoon 91-persent van Suid-Afrika se ondernemings en 60-persent van werksgeleenthede is te danke aan KMMO’s. Hy het die behoefte aan uiteenlopende befondsing, marktoegang, vaardigheidsontwikkeling en ondersteunende beleide beklemtoon om inklusiewe, volhoubare groei te ontsluit en die informele sektor te versterk.
# Rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het die meeste spelers behou wat Nieu-Seeland verlede naweek geklop het toe hy sy groep aangekondig het vir die laaste twee Rugbykampioenskapswedstryde teen Argentinië in Durban en Londen. Die groep kom môre in Durban bymekaar nadat hulle ‘n paar dae saam met hulle gesinne deurgebring het. Willie le Roux is uitgelaat. Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Aphelele Fassi, Gerhard Steenekamp, Frans Malherbe, Salmaan Moerat en Kurt-Lee Arendse sal weens beserings nie speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-57 teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-439-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-666-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….