Eko-minuut 13:30
BULLETIN 17 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Gemeenskappe aan die Oos-Kaapse Wildekus het aan die Konstitusionele Hof gesê dat Shell se beplande seismiese verkenning ter see hul kulturele regte en voorvaderlike verbintenisse met die oseaan bedreig. Die gemeenskappe en omgewingsgroepe betwis ‘n uitspraak van die Appèlhof wat Shell toelaat om ‘n aansoek vir seismiese verkenning in te dien. Die gemeenskappe het in hulle betoë die gebrek aan gesprekvoering benadruk, asook die potensiële besoedeling van die see tydens seismiese ontploffings. Uitspraak is voorbehou.
Die Internasionale Energie-agentskap sê intussen die gemiddelde tempo waarteen olie- en gasvelde se produksie oor tyd afneem, het wêreldwyd aansienlik versnel. Dit is grootliks vanweë groter afhanklikheid van skalie- en diepsee-bronne. Die nuwe IEA-verslag sê die gemiddelde wêreldkoerse vir jaarlikse na-spits-afname is 5,6-persent vir olie-produksie en 6,8-persent vir konvensionele aardgas. Die agentskap sê sonder voortgesette belegging sou die wêreld elke jaar die ekwivalent van Brasilië en Noorweë se gesamentlike produksie uit die globale oliebelang verloor.
# En die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê beduidende vordering is gemaak met die vermindering van koolstofvrystellings as deel van Suid-Afrika se Billike Energie-oorgang. Suid-Afrika is onder die top 15 grootste koolstofdioksied-uitstralers wêreldwyd. George sê die onlangs-gepubliseerde konsep-regulasies vir die Nasionale Kweekhuisgas-koolstofbegroting en -versagtingsplan sal die land se oorgang na ‘n lae-koolstof, klimaatveerkragtige ekonomie vergemaklik. Hy voeg by nog ‘n poging tot koolstofvrystellings-vermindering is die strenger vrystellings vir Eskom se kragstasies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….