Nuus 09:00
BULLETIN 17 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oproepe dat die Madlanga-kommissie die veiligheid van fluitjieblasers moet verseker
# Die regering versoek studente om aansoek te doen vir 2026-befondsing
# En ‘n Gesamentlike Operasiesentrum is gestig om taxiroetes in die Wes-Kaap te monitor
# Die nieregeringsorganisasie, Whistleblower House,sê die Madlanga-kommissie moet seker maak fluitjieblasers word beskerm. Die kommissie wat bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in Suid-Afrika se regstelsel moet ondersoek, begin vandag. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sal eerste getuig. Ben Theron van Whistleblower House het aan eNCA gesê indien fluitjieblasers beskerm word, sal straffeloosheid verminder en aanspreeklikheid vanselfsprekend wees:
# Die regering doen ‘n beroep op alle kwalifiserende studente om aansoek vir befondsing van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vir volgende jaar aansoek te doen. Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nomusa Dube Ncube, het gister die aansoekproses in Pretoria van stapel gestuur. Die regering se woordvoerder, Themba Mazibuko, sê die aansoekproses vir 2026 is vereenvoudig en verbeter, met aansoeke wat via die myNSFAS-portaal ingedien word:
# Die Stad Kaapstad se Veiligheids- en Sekuriteitsdirektoraat sê hulle het ‘n gesamentlike operasionele sentrum geskep om taxiroetes in Somerset-Wes en omliggende gebiede te monitor. Die Wes-Kaapse regering het verlede week die sluiting van sommige roetes tussen Khayelitsha, Lwandle, Mfuleni en Somerset-Wes vir 30 dae aangekondig. Dit volg na voortdurende spanning tussen taxi-organisasies. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die sentrum sal nakoming verseker en enige moontlike risiko’s vir openbare veiligheid verminder:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het uitgevaar teen wat hy beskryf as Israel se gewelddadige en onwettige aanval op Katar. Hy beskuldig Israel dat hy imperialistiese aggressie nastreef wat vrede in die Midde-Ooste bedreig, soewereiniteit ondermyn en die oorlog teen Palestina en buurstate verleng. Die SAKP se woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê Israel se regverdiging om Hamas in Katar aan te val is slegs propaganda om magsgedrewe motiewe te versteek. Mandlana moedig die globale suide aan om in solidariteit te staan met Palestina en alle lande wat geraak word.
# Sokker: Die 15-malige kampioene, Real Madrid, het met tien spanlede hulle Kampioeneliga-veldtog op ‘n wennoot begin deur Marseille met 2-1 te klop. Kylian Mbappé het twee strafdoele aangeteken, maar die kaptein Dani Carvajal is afgestuur vir ‘n kopstamp teen Marseille se doelwagter Gerónimo Rulli. Juventus en Borussia Dortmund het met vier-elk gelykop gespeel. Gabriel Martinelli en Leandro Trossard het van die bank af gekom om doele te behaal met Arsenal wat die Spaanse klub Athletic Club met 2-0 geklop het. Tottenham Hotspurs het Villarreal met 1-0 verslaan en Qarabag het Benfica met 3-2 ore aangesit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-286-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-681-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….