Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering het nie daarin geslaag om ‘n belofte na te kom wat president Cyril Ramaphosa ses jaar gelede gemaak het om te verseker dat elke leerder teen 2025 toegang tot ‘n digitale platform sal hê nie. Ramaphosa het die belofte in 2019 gemaak, maar weens ‘n gebrek aan hoëspoed-internetverbindings en ‘n tekort aan fondse het dit nie gerealiseer nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die kinderpornografie-beskuldigde, Tiona Megan Moodley wil die Hooggeregshof nader vir borgtog. Sy verskyn saam met Darren Wilken in die Randburg-landdroshof.
Tweedens kan lesers op die webblad gaan kyk hoe lyk die tien finaliste vir vanjaar se Mej SA-kompetisie. Dit vind op 25 Oktober in Pretoria plaas.
En laastens word berig die Amerikaanse aanklaers in die saak teen die moordenaar van die aktivis Charlie Kirk, gaan die doodstraf vir Tyler Robinson aanvra.
GAUTENG:
# The Star:
Se hoofopskrif lui: “CYRIL SELLS THE ANC TO THE DA”. Daar is gerugte dat die president sy eie party opoffer ten gunste van die regering van nasionale eenheid.
En tweedens berig die koerant wat veronderstel was om ‘n keerpunt vir Ramaphosa se beeld te wees, het ‘n mislukking geword. Die nasionale dialoog wat hy vroeër vanjaar van stapel gestuur het, het momentum verloor, wat ernstige vrae oor die toekoms en doel daarvan laat ontstaan.
# Sowetan:
Lei met: “MOMENT OF TRUTH”. Die koerant berig vandag is die eerste dag van die Madlanga-kommissie met luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi as die eerste getuie.
# En The Citizen:
Skryf die pa van die vermoorde Leigh Matthews, Rob sal alles in die stryd werp om te keer dat haar moordenaar, Donovan Moodley nou ná 20 jaar op parool vrygelaat word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Ramaphosa is in groot moeilikheid in die ANC vir sy uitlating oor die DA se dienslewering wat beter is as die ANC s’n. Daar is lede van die ANC wat glo hy moes nie die uitlating in die openbaar gemaak het nie, want dit plaas stemme op ‘n skinkbord vir die opposisie.
En tweedens skryf die koerant volgens ‘n internasionale verslag oor kraamvoordele lê Suid-Afrika heel onder aan die lys wat voordele betref. Ons bied saam met ‘n land soos die VSA die swakste vergoeding en minste verlof aan.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Koning Sabata Dalindyebo plaaslike munisipaliteit in Mthatha sê hy gaan streng optree teen elektisiteitsdiefstal.
En skryf munisipale werkers in Buffalo City gaan moontlik staak en dit sal lei tot ‘n onderbreking in dienslewering.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Nasionale Taxiraad, SANTACO het toegetree tot die gesprek oor veilige skoolvervoer in KwaZulu-Natal. Dit volg na ‘n taxi-ongeluk waarin drie leerders omgekom het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die onderhoudstoelaag van 350-rand per maand het in meer as twee dekades nie gestyg het nie en dit beteken volgens kenners dat kwesbare kinders nie hoog op die beleidsagenda is nie.
Dan skryf die koerant Namibië speel gasheer vir ‘n konferensie oor kankergenomika wat praktiese oplossings vir die sorg van plaaslike kankerlyers en ook dié in Afrika kan verander.
En laastens word berig die pa wat na bewering sy seuntjie en dogtertjie verwurg het, het in die hof verskyn.