Nuus 18:00
BULLETIN 16 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi vra ‘n ononderbroke begin van die Madlanga-kommissie se sittings
# Atletiek: Die Suid-Afrikaner Zakithi Nene dring deur na die eindronde van die 400-meter in Tokio
# En die Hollywood-hartebreker Robert Redford sterf op 89
# Rise Mzansi sê daar is ‘n dringende behoefte om die strafregstelsel te herstel met die Madlanga-kommissie wat môre met sy werk begin in die Bridgette Mabandla-justisiekollege in Pretoria. Die kommissie sal ondersoek instel na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en die party vra ook ‘n ondersoek na die polisie se misdaadintelligensie-afdeling. Rise Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, gekritiseer omdat hy nie inligting verskaf het oor onlangse misdaadintelligensie-inhegtenisnemings nie:
# ActionSA gaan ‘n klagte by die Openbare Beskermer indien ná onthullings dat die Nasionale Tesourie versuim het om op te tree oor korrupsiesake wat deur die Spesiale Ondersoekeenheid uitgelig is. Daar is 467 verskaffers en individue wat aanbeveel is vir die swartlys, maar slegs een is op die Tesourie se register vir beperkte verskaffers. ActionSA sê dit verteenwoordig ingewortelde wanadministrasie, met slegs 44 afleggings uit een-duisend-278 dissiplinêre verwysings. Die party gee die Tesourie, die Presidensie en rekenpligtige beamptes die skuld vir die mislukking in gevolgebestuur.
# Die DA in die Wes-Kaap veroordeel die onlangse toename in wreedaardige geweld in Kraaifontein, Mfuleni en Steenberg in Kaapstad, waar verskeie mense vermoor of beseer is in vermeende bende-verwante aanvalle. Volgens die party kan onder-befondsde en oorbelaste polisiestasies nie doeltreffend optree nie. Benedicta van Minnen van die DA vra die nasionale regering om meer hulpbronne te voorsien en plaaslike munisipaliteite meer mag te gee om veiligheid te verbeter:
# Atletiek: Zakithi Nene van Suid-Afrika het deurgedring na die eindronde van die mans 400-meter op die wêreldkampioenskap in Tokio, Japan. Hy het sy uitdun in die vyfde vinnigste tyd gewen, maar sy landgenoot Lythe Pillay het uitgeval. Drie atlete van Botswana gaan aan die eindronde deelneem. Busang Kebinatshipi se tyd van 43,61-sekondes is tans die vinnigste in die wêreld. Sy landgenote Bayapo Ndori en Lee Eppie sluit by hom aan. Onder die ander deelnemers is Rusheen McDonald van Jamaika, die Amerikaner Jacory Patterson en die plaaslike atleet Yuki Nakajima.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-54 teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-72-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-698-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-83-sent per vat.
# En ons sluit af op ‘n hartseer-noot: Die Hollywood-hartebreker Robert Redford is oorlede in die ouderdom van 89. Sy agent, Cindi Berger, het aan CNN gesê hy het gesterf in sy huis in Sundance in die berge van Utah, omring deur sy geliefdes. Redford was beroemd vir hoofrolle in Butch Cassidy and the Sundance Kid en All the President’s Men, en was ook regisseur van bekroonde rolprente soos Ordinary People en A River Runs Through It. Hy was ‘n toegewyde omgewingsaktivis en het pogings gelei om die natuurlike landskap van Utah en die Amerikaanse Weste te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….