Nuus 17:00
BULLETIN 16 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit verklaar ‘n amptelike geskil met die regering oor afleggings
# Rugby: Jacques Nienaber is verlore vir die Springbokke tot minstens 2027
# En die Hollywood-hartebreker Robert Redford sterf op 89
# Die vakbond Solidariteit het ‘n amptelike geskil met die regering verklaar by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Nedlac, oor grootskaalse afleggings, met verwysing na swak infrastruktuur, onbestendige kragvoorsiening en beleidsmislukkings. Die vakbond sê derduisende poste is reeds geraak, met meer poste wat in die komende maande in gevaar is. Solidariteit beskuldig president Cyril Ramaphosa daarvan dat hy herhaalde waarskuwings en voorstelle ignoreer. Woordvoerder Dirk Hermann sê formele bemiddeling is nou nodig om werksgeleenthede te beskerm:
# Die Nasionale Minimumloon-kommissie moedig die publiek en belanghebbendes aan om teen Donderdag hul menings te gee oor moontlike aanpassings van die minimumloon vir 2026. Die huidige loon is 28-rand-79-sent per uur. Die woordvoerder van die Departement van Indiensneming en Arbeid, Teboho Thejane, sê voorleggings kan per e-pos gestuur of aanlyn gelaai word, of per landpos gestuur word, en moedig burgers aan om die aanlyn opname te voltooi:
# Die Departement van Verdediging erken dat hy amper 110-miljoen-rand bestee het aan huurgeld vir die St George-hotel in Pretoria. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het die syfers bekend gemaak in die Parlement. Sy gee die Department van Openbare Werke die skuld dat hy nie voldoende staatseiendomme beskikbaar gestel het nie. Volgens News24 het die hotel tussen 2022 en verlede jaar die Nasionale Krygskollege en Verdedigingskollege gehuisves. Die DA vra ‘n ondersoek terwyl ActionSA Motshekga en haar adjunkte kritiseer dat hulle meer as 20-miljoen-rand aan oorsese reise bestee het.
# Rugby: Die Wêreldbeker-verowerende afrigter Jaques Nienaber sal by sy Ierse span, Leinster, bly tot 2027. Dit beeïndig bespiegeling dat hy moontlik na die Springbokke sal terugkeer om by sy vriend Rassie Erasmus aan te sluit. Nienaber het die Bokke in 2023 tot ‘n agtereenvolgende Wêreldbeker-titel gelei en is daarna terug Ierland toe waar hy voorheen afgerig het. Leinster het verlede seisoen die Verenigde Rugbykampioenskaptitel gewen. Die span het ook die aanstelling van ‘n voormalige speler, Emmet Farrell, as skopafrigter aangekondig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-52 teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-530-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-692-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-78-sent per vat.
# En ons sluit af op ‘n hartseer-noot: Die Hollywood-hartebreker Robert Redford is oorlede in die ouderdom van 89. Sy agent, Cindi Berger, het aan CNN gesê hy het gesterf in sy huis in Sundance in die berge van Utah, omring deur sy geliefdes. Redford was beroemd vir hoofrolle in Butch Cassidy and the Sundance Kid en All the President’s Men, en was ook regisseur van bekroonde rolprente soos Ordinary People en A River Runs Through It. Hy was ‘n toegewyde omgewingsaktivis en het pogings gelei om die natuurlike landskap van Utah en die Amerikaanse Weste te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….