Nuus 15:00
BULLETIN 16 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburg gaan in November die gasheer wees vir belangrike verhore oor WVK-sake
# Die DA is gevlei oor die ANC se erkenning van sy prestasie in regering
# En sokker: Europa se Kampioeneliga-kompetisie keer terug
# Die regtelike kommissie van ondersoek na bewerings van inmenging in Waarheids- en Versoeningskommissie-sake begin op 10 November met mondelinge verhore in die Sci-Bono Discovery Centre in Johannesburg. Die kommissie, onder voorsitterskap van die voormalige regter van die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe, versoek alle belanghebbende partye om getuieverklarings, verslae en ander bewyse teen 10 Oktober in te dien. Die kommissie se woordvoerder, Lionel Adendorf, sê die ondersoek is daarop gemik om vorige pogings te onthul om WVK-ondersoeke of -vervolgings te stuit.
# Die familie van die vermoorde Johannesburgse student Leigh Matthews verwerp aanbevelings oor haar moordenaar se moontlike parool. Donovan Moodley is in 2005 skuldig bevind aan moord, ontvoering en afpersing, en is reeds byna 21 jaar agter tralies. Matthews se pa, Rob, het aan SABC News gesê die proses het weer pynlike wonde oopgekrap. Hy beklemtoon daar was geen volledige openbaarmaking van die misdaad of ‘n behoorlike evaluering van die gevaar wat Moodley vir die samelewing inhou nie:
# Die Patriotic Alliance het aangekondig sy geskorste adjunkpresident, Kenny Kunene, is die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg in die komende plaaslike regeringsverkiesing. Dit volg ondanks ‘n interne ondersoek na Kunene se beweerde bande met die misdaadfiguur Katiso “KT” Molefe. Kunene was by Molefe se huis in Sandton toe hy in hegtenis geneem is vir DJ Sumbody se moord. Die partyleier, Gayton McKenzie, sê die ondersoek is byna klaar. Liam Jacobs van die Johannesburgse raad is aangestel as die party se Kaapstadse burgemeesterskandidaat. Hy was voorheen ‘n DA-lid.
Nog munisipale nuus: Die DA sê hy is bly president Cyril Ramaphosa het erkenning gegee aan die party se rekord van goeie regering. Ramaphosa het gister in Johannesburg aan ANC-raadslede gesê Kaapstad en Stellenbosch is voorbeelde van doeltreffende dienslewering, en het ANC-raadslede aangespoor om te leer by DA-munisipaliteite. Die DA-lid, Willie Aucamp, sê die party bly verbind daartoe om alle Suid-Afrikaners se lewens te verbeter:
# Sokker: Die groepfase van die Kampioeneliga begin vanaand, met 36 spanne wat dit uitspook om die Europese kampioen te word. In die groepfase speel elke span teen agt spanne met vier tuiswedstryde en vier wegwedstryde. Spanne wat onder die eerste agt eindig, kwalifiseer outomaties vir die laaste 16, terwyl die negende tot 24ste spanne aan uitklopwedstryde oor twee rondes elk sal deelneem. In vandag se wedstryde speel die 15-malige kampioen Real Madrid teen Marseille, Arsenal kom teen teen Athletic Club te staan, terwyl Juventus en Dortmund sake sal uitspook.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-49 teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-361-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-691-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….