Nuus 12:00
BULLETIN 16 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof hoor ‘n saak aan oor Shell se seismiese opnames aan die Wildekus
# ‘n Brand beskadig 80-meter se vervoerbande by Richardsbaai se terminale
# En die Dierebeskermings-vereniging vra dringende optrede om renperde te beskerm
# Gemeenskappe aan die Wildekus pak Shell, Impact Africa en die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie vandag in die Konstitusionele Hof. Die saak handel oor die seismiese gas-opnames aan die Wildekus en regte om olie te ontgin wat in 2014 aan Shell en Impact Africa toegestaan is. Die hof moet bepaal of die Appèlhof se besluit om ‘n beslissing wat Shell se regte ongeldig verklaar, kan stand hou. Green Connection se woordvoerder, Neville van Rooy, sê seismiese opnames het groot omgewingsgevolge:
# Transnet Hawe-terminale het bevestig ‘n brand het 80-meter se vervoerbande beskadig op die houtsplinter-roete op die Richardsbaaise terminale in KwaZulu-Natal. Die brand is onder beheer gebring deur noodreaksiespanne en sproeiers wat groter skade verhoed het. Die bestuur het bevestig die vaartuie langs die kaai is herlei na Durban se Multifunksionele Terminaal om voort te gaan met laaiwerk. Herstelwerk is tans aan die gang, en bedrywighede sal na verwagting later die week hervat word. Daar word ook ondersoek ingestel na die oorsaak.
Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit hou intussen tans ʼn brand dop in die berge bo Cogmanskloof tussen Ashton en Montagu. Die brand het gister teen die laer hellings van die kloof ontstaan. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand is oornag aangevuur deur digte plantegroei en sterk wind. Sy voeg by vier brandweervoertuie en spanne brandbestryders is tans ontplooi:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings vra dringende optrede om renperde te beskerm. Kommer bestaan oor die gebruik van tongbande en perde wat te jonk is om aan wedrenne deel te neem. ʼn DBV-woordvoerder, Bryce Marock, sê dierewelsyn moet voorkeur kry bo kommersiële belange. Hy vra strenger wetstoepassing, strafregtelike vervolging waar nodig, ʼn verbod op skadelike instrumente en dat geen perde aan wedrenne deelneem voor hulle gebeente volledig ontwikkel het nie. Marock sê dit sal betekenisvolle hervorming in Suid-Afrikaanse perdewedrenne beteken.
# Krieket: Die Protea-vrouespan se kaptein, Laura Wolvaardt, sê die eendagreeks teen Pakistan is die perfekte voorbereiding vir die komende Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die eerste van drie eendagwedstryde begin vanmiddag in Lahore. Suid-Afrika het ʼn sterk eendagrekord teen Pakistan met 21 oorwinnings uit 28 kragmetings tussen die twee lande. Wolvaardt sê dis ʼn uitstekende geleentheid om in Suid-Asië te speel voor die Wêreldbekertoernooi begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-47 teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-694-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….