Nuus 09:00
BULLETIN 16 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op die Regterlike Dienskommissie om omkoopbeweringe teen ’n regter te ondersoek
# Die tariefverhogings kan Suid-Afrika se groothandel-elektrisiteitsmark beïnvloed
# En die Amerikaanse weermag val nog ‘n Venezolaanse dwelmskip aan
# Die DA doen ‘n beroep op die Regterlike Dienskommissie om dringend aandag te gee aan klagtes van omkopery teen ‘n regter van die Johannesburgse Hooggeregshof. ‘n Sakeman en prokureur van Heidelberg, Bouwe Wiersma, het ‘n formele klag by die kommissie ingedien en beweer ‘n regter het aanvanklik sewe-duisend-rand versoek om verlof tot appèl teen ‘n uitsettingsbevel toe te staan. Die bedrag is later verminder tot vyf-duisend-rand, wat Wiersma sê hy betaal het. Die DA se Glynnis Breytenbach sê ‘n mafiastaat word gekenmerk deur, onder andere, ‘n gekaapte regbank:
# Nuwe navorsing deur Cresco beklemtoon veranderings aan Suid-Afrika se gereguleerde elektrisiteitstariewe kan mededinging en beleggings ondermyn, voor die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Groothandel-elektrisiteitsmark in 2026. Dit sluit die Megaflex-grootmaatgebruikerstarief in. Eskom dring aan op ‘n hoër vastekosteverhouding, maar ontleders waarsku dit kan die kragvoorsienier se oorheersing versterk, onafhanklike kragprodusente afskrik en kleiner verbruikers belas. Cresco vra gebalanseerde hervormings om te verseker belegging, mededinging en langtermyn-energiesekerheid word deur die groothandel-elektrisiteitsmark gedryf.
# ActionSA in Gauteng sê hy is bekommerd oor die toenemende waterkrisis wat gemeenskappe in Westbury, Westdene, Coronationville en omliggende gebiede in Johannesburg raak. Die Kommando-stelsel wat water aan ‘n groot deel van die metro voorsien, is onder druk weens groter aanvraag, beperkte voorsiening en infrastruktuurbeperkings. Dit laat baie gemeenskappe sonder bestendige watervoorsiening, wat tot betogings gelei het. ActionSA-woordvoerder Zwelithini Mtshali sê dis nie net ʼn mislukking van dienslewering nie, maar ʼn humanitêre krisis:
# President Donald Trump van Amerika sê die weermag het ʼn aanval uitgevoer op ʼn vermeende Venezolaanse dwelmvaartuig wat in internasionale waters op pad was na Amerika. Drie mans is in gister se aanval dood. Dit volg na ʼn soortgelyke aanval vroeër die maand waarin elf mense dood is. Trump sê hierdie uiters gewelddadige dwelmkartelle hou ʼn gevaar in vir Amerika se nasionale sekuriteit, buitelandse beleid en belangrike Amerikaanse belange. Hy sê hulle het bewyse dat die bote aan ʼn dwelm-terroristegroep behoort het:
# Krieket: Die Pakistanse krieketbeheerliggaam, vra dat wedstrydskeidsregter, Andy Pycroft verwyder moet word na die Asië-bekerwedstryd teen Indië in Dubai. Dit volg nadat die Indiese spelers geweier het om na die wedstryd hand te skud met die Pakistanse spelers. Indië het die wedstryd met sewe paaltjies gewen. Dit is die eerste wedstryd tussen die twee aartsvyande sedert die vierdaelange militêre konflik in Mei. Die voorsitter van die Pakistanse Krieketraad, Mohsin Naqvi, het dit as swak sportmanskap bestempel en ‘n klagte teen Pycroft by die Internasionale Krieketraad aangeteken vir ‘n oortreding van die gedragskode.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-314-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-681-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….