Nuus 07:00
BULLETIN 16 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku teen faksievorming en swak leierskap in munisipaliteite
# Die waarnemende polisieminister sê die ondersoek na die beweerde sluipmoordpoging op Paul Mashatile is afgehandel
# En die FBI-direkteur sê DNS-bewyse verbind die verdagte met die moord op Charlie Kirk
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het raadslede streng opdragte gegee voor die plaaslike regeringsverkiesing volgende jaar. Ramaphosa het gister meer as vierduisend raadslede by die FNB-stadion in Johannesburg, Gauteng, toegespreek en leiers aangespoor om etiek, vaardighede en diens aan die mense bo faksiebelange te plaas. Hy het gewaarsku dat swak leierskap en interne verdeeldheid openbare vertroue en dienslewering in munisipaliteite ondermyn:
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê enige besluit oor Suid-Afrika se benadering tot die inflasieteiken moenie ligtelik geneem word nie. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank wil ‘n nuwe inflasieteiken stel en voer aan die huidige koers maak dat die land nie mededingend is nie en plaas druk op landsburgers. Die land se inflasiesyfer het die afgelope jaar gedaal en staan sedert Oktober 2024 op sowat drie-persent. Masondo sê lae en bestendige inflasie ondersteun mededingendheid, versterk aanvraag, verlaag leningskoste en bevorder werkskepping.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die ondersoek na die vermeende sluipmoordpoging op adjunkpresident Paul Mashatile is afgehandel. Die ondersoek is uitgevoer deur die polisie se Misdaadintelligensie-afdeling en die Staatsveiligheidsagentskap. Op 30 Maart is talle skote op Mashatile se voertuig afgevuur terwyl hy op pad was van ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Johannesburg. Cachalia het op ʼn parlementêre vraag van die EFF gesê enige vordering sal gerapporteer word, onderworpe aan die klassifisering van die ondersoek se bevindings.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die huidige waterprobleme by die metro word vinnig hanteer. Dit kom te midde van wisselvallige watervoorsiening in groot dele van die metro wat onlangs tot vier dae van betogings in die Westbury-area gelei het. Die burgemeester het gister die Alexandra-reservoir besoek wat een van dié is wat die swaarste getref word. Hy erken dat gebarste pype en onwettige verbindings die stelsel dreineer. Morero sê reservoir-vlakke moet op 50-persent bly om betroubare voorsiening te verseker:
# Die FBI-direkteur, Kash Patel, sê DNS-bewyse wat ondersoekers gevind het, verbind die man wat beskuldig word van die moord op die konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk, met die voorval. Die 22-jarige Tyler Robinson is gearresteer nadat hy Kirk na bewering Woensdag by die Utah Valley University doodgeskiet het. Patel het aan Fox News gesê die geweer wat gebruik is om Kirk te vermoor, word tans ondersoek by die federale laboratoriums vir alkohol, tabak, vuurwapens en plofstof in Maryland:
# Gholf: Die Noorweegse ster, Viktor Hovland, maak sy eerste buiging in Suid-Afrika wanneer hy in die Nedbank Gholfuitdaagtoernooi afslaan. Die toernooi ter ere van Gary Player word van 4 tot 7 Desember op die Gary Player-buitebaan gespeel. Hovland maak volgende week sy derde agtereenvolgende verskyning by die Ryder-beker by Bethpage Black in Farmingdale, New York, met Span Europa wat probeer om die trofee te behou wat hulle twee jaar gelede gewen het. Hovland, die wêreld se nommer 11, is die eerste Noorweër wat al op beide die DP World-toer en die PGA-toer gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-431-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-681-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….