Nuus 06:00
BULLETIN 16 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê raadslede het die mag om plaaslike regering te transformeer en burgers se lewens te verbeter
# Korrektiewe Dienste sit Donovan Moodley se paroolsituasie uiteen
# En atletiek: Tshepo Tshite is deur na die 1 500-meter eindronde by die Wêreldkampioenskap
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê raadslede het die mag om die samelewing te verander en burgers se lewens te verbeter. Ramaphosa het duisende raadslede by die FNB-stadion in Johannesburg in Gauteng toegespreek en gesê plaaslike regering het die grootste potensiaal om verandering te dryf, dienste te lewer en die demokrasie te versterk. Hy het raadslede aangespoor om beslissend op te tree, mislukkings in dienslewering aan te pak en te verseker dat munisipaliteite gemeenskappe doeltreffend dien:
Ramaphosa het raadslede ook aangespoor om beslissend op te tree en diensleweringsuitdagings aan te spreek, veral watertekorte wat gemeenskappe raak. Ramaphosa het aan die party se raadslede gesê hul moet duidelike, praktiese planne ontwikkel om grootmaatwater- en voorsieningsprobleme op te los en nie wag vir die media en dan eers optree nie. Hy het beklemtoon plaaslike leiers moet seker maak gemeenskappe beskik oor basiese dienste:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het verduidelik goedkeuring vir die veroordeelde moordenaar Donovan Moodley se vrylating op parool is steeds aan die gang. Die departement sê sy parool moet deur die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste hersien word, met die finale besluit wat berus by die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald. Moodley, wat in 2005 tronk toe gestuur is vir die ontvoering en moord op die student, Leigh Matthews, kwalifiseer sedert 2018 vir parool, maar dit word steeds verwerp deur die Matthews-familie. Amptenare het beklemtoon die proses is nog in ‘n vroeë stadium.
# Die Gautrein-bestuursagentskap het sy 13de agtereenvolgende skoon oudit in die 2024/2025-boekjaar behaal, wat sy reputasie vir deursigtigheid, verantwoordbaarheid en gesonde finansiële bestuur versterk. Albi Modise van die agentskap sê die prestasie weerspieël gedissiplineerde bestuur en doeltreffende werksaamhede. Dit sluit in treinbeskikbaarheid van 99,51-persent en stiptelikheid van 97,57-persent. Die agentskap het ook sertifiserings in gehalte-, omgewings- en beroepsgesondheid- en veiligheidsbestuur van die Internasionale Organisasie vir Standaardisering ontvang:
# Die Verenigde Nasies se Menseregteraad voer vandag ‘n dringende debat oor Israel se lugaanval op Hamas-leiers in Katar. Die debat is byeengeroep nadat twee amptelike versoeke ontvang is, een van Pakistan namens lidlande van die Organisasie van Islamitiese Samewerking, en die ander van Koeweit namens die Samewerkingsraad vir die Arabiese Golfstate. Dit is die 10de dringende debat sedert die raad se totstandkoming in 2006.
# Atletiek: Tshepo Tshite is deur na die mans se 1 500-meter eindronde by die Wêreldkampioenskap in Tokio en is die eerste Suid-Afrikaner wat dit kon regkry sedert Moskou 2013, toe Johan Cronje die brons verower het. Marioné Fourie is uitgeskakel in die vroue 100-meter hekkie-halfeindronde. In die mans 110-meter hekkies kon drie Suid-Afrikaners, John Adesola, Mondray Barnard en Antonio Alkana, nie verby die eerste ronde vorder nie. In die vroue-paalspring-kwalifiseringsronde kon Miré Reinstorf en haar manlike spanmaat, Kyle Rademeyer, asook die hoogspringer Brian Raats, nie een keer oor die dwarslat seil nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-494-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-678-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….