Nuus 17:00
BULLETIN 15 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Slegs 300 sitplekke is beskikbaar vir die publiek by die hoëprofiel-regterlike kommissie in Pretoria
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing waarsku Suid-Afrika floreer nie maar oorleef slegs
# En sokker: Manchester United se afrigter is onder druk na ‘n swak begin van die Premierliga-seisoen
# Die Madlanga-regterlike kommissie van ondersoek sê slegs 300 sitplekke sal beskikbaar wees vir die eerste openbare sittings in die Bridgette Mabandla-justisiekollege in Pretoria. Die openbare sittings oor misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel is geskeduleer vir Woensdagoggend om 10-uur, met die daaropvolgende sittings wat 9:30 begin. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het deelnemers aangespoor om vroeg op te daag:
# Die voorsitter van die ANC se Integriteitskomitee, Frank Chikane, bepleit hernude ywer, professionaliteit en revolusionêre moraliteit binne die party. Chikane het afgevaardigdes toegespreek op ‘n byeenkoms van ANC-raadslede in Johannesburg, en gewaarsku korrupsie en omstrede amptenare het staatsinstellings verswak. Hy vra lede om mense se belange te stel bo faksies of hulle gesinne, waaksaam te bly teen onetiese gebruike en in die toekoms die organisasie se integriteit te handhaaf:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika floreer nie maar oorleef slegs. Die groei van die bruto binnelandse produk word volgende jaar geskat op slegs 1,3-persent en privaat sektor-belegging bly ver onder die vlakke van voor Covid-19. Die buro waarsku groei word gestrem deur min privaat belegging, burokrasie en korrupsie, ondanks stygende verbruikersbesteding. Ondernemings noem probleme met vertraagde regeringsbetalings, misdaadverwante koste en oormatige burokrasie. Talle sake-eienaars is bekommerd dat 2025 die jaar sal wees waarin hulle hulle deure sal moet sluit.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Hamas word aangemoedig deur pogings van Brittanje, Frankryk en ander Amerikaanse bondgenote om ‘n Palestynse staat te erken. Hy het tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, in Jerusalem gesê so ‘n erkenning het geen uitwerking nie en dien eintlik as ‘n hindernis teen vrede. Rubio sê Hamas het in die verlede soms weggestap van ooreenkomste waartoe hy stilswyend ingestem het, maar sien dan dié soort internasionale steun raak wat hulle glo hulle ontvang.
# Sokker: Die druk op die afrigter van Manchester United, Ruben Amorim, raak al hoe meer, met sy span wat gister 3-nul teen Manchester City verloor het in die Premierliga. United het slegs vier punte uit hulle eerste vier wedstryde gekry, wat beteken dit is hulle swakste begin in ‘n Premierliga-seisoen in 33 jaar. Amorim, wat kritiek verduur vir sy 3-4-3- stelsel, hou vol hy sal nie sy gunsteling-veldplasings verander nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-40 teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-53-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-653-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….