Goeie Nuus
BULLETIN 15 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Stad Kaapstad het die vyfde uitgawe van sy belangrike plekbemarkingstydskrif, This Is Cape Town, uitgegee. Die publikasie beklemtoon die stad se ses temas vir bemarking, naamlik Besoek, Leef, Werk, Studeer, Speel en Belê. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê volume vyf belig die Khayelitsha-modeweek, die wynroetes in die metro en omliggende streke, en hoe Kaapstad se klerehandelsmerke die pas aangee vir volhoubaarheid en plaaslike vervaardiging:
# Die Ebb-and-Flow-ruskamp in die Wildernis-gedeelte van die Tuinroete Nasionale Park is aangewys as die beste naweekwegbreek op die Best of George Readers’ Choice-toekennings in die Wes-Kaap. Die toekenning, wat deur openbare benoeming en stemming beslis word, erken uitstekende plaaaslike ondernemings. Die kamp, bekend vir sy bospaadjies, panoramiese uitsigte en uiteenlopende verblyfkeuses, is verlede jaar aangewys as beste presterende kamp op SANParke se Koedoe-toekennings.
# Die Universiteit van die Vrystaat is as een van die beste drie universiteite landwyd aangewys tydens die 2025 GradStar-toekennings. Drie-en-vyftig studente is op die gesogte Top 500-lys ingesluit. Die toekennings, wat tien jaar gelede begin is, identifiseer studente in Suid-Afrikaanse universiteite met vaardighede in indiensneembaarheid, wat leierskapseienskappe het en potensiaal toon om ‘n betekenisvolle invloed op die werksplek te hê. Die UV sê dié erkenning bewys die instelling se toewyding aan akademiese uitnemendheid en die sukses van studente.
# Durban se Universiteit vir Tegnologie maak gereed om dié week tydens die Lente-gradeplegtighede grade en diplomas aan 940 studente toe te ken wat hul studies vlotooi het. Die lys graduandi sluit 553 vroue en 387 mans in. Altesaam 59-persent van die gegradueerdes is vroue. Die universiteit sal ook ‘n eredoktorsgraad aan die bekende sakeman Sipho Nkosi toeken uit erkenning vir sy bydrae en prestasies tot entrepreneurskap, sy leierskap in die sakesektor, groen en hernubare energie, en jeug- en vrouebemagtiging.
# En Adolescence van Netflix het ses toekennings ingepalm op die 77ste Emmys. Dit sluit in beste beperkte of kort reeks, terwyl die 15-jarige Owen Copper aangewys is as beste ondersteunende akteur in ‘n beperkte reeks en daarmee die jongste manlike wenner geword het van enige kategorie vir toneelspel. Seth Rogen het vier Emmy’s gewen vir sy komediereeks The Studio. The Pitt het twee Emmy’s gewen – beste dramareeks en beste akteur vir Noah Wyle. Tramell Tillman is aangewys as Beste Ondersteunende Akteur in ‘n dramareeks vir Severance.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….