Nuus 13:00
BULLETIN 15 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki sê ‘n gebrek aan geloofwaardigheid veroorsaak die onttrekking van nasionale dialoog
# Charlie Kirk se gedenkdiens sal in ‘n stadon in Arizona gehou word
# En rugby: Die Bokke is weer konings van die wêreld
# Oudpresident Thabo Mbeki het onthul waarom verskeie stigtings, insluitend sy eie, verkies het om nie deel te wees van die nasionale dialoog nie. Mbeki het by Unisa die uitvoerende hoof van sy stigting, Max Boqwana, gevra om die situasie te verduidelik. Boqwana het verwys na oorhaastige beplanning, ‘n gebrek aan geloofwaardigheid en pogings om die proses te politiseer. Hy benadruk die onttrekking was om geloofwaardigheid te beskerm en het beloof om ‘n ware nasionale dialoog daar te stel:
# ActionSA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en haar adjunkte het ‘n verbysterende 20-miljoen-rand aan reise vermors sedert sy die amp begin beklee het. Hulle het na bestemmings soos Viëtnam, Kuba, Maleisië, Japan en Turkye gereis sonder enige regverdiging of voordeel vir die koste verbonde. Lerato Ngobeni van ActionSA sê van die skokkendste voorbeelde is die 4,9-miljoen-rand wat aan huurmotors bestee is, 5,5-miljoen-rand aan binnelandse reise en luukse verblyf wat meer as drie-miljoen-rand beloop het:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Gedenkdiens sal Sondag in Arizona gehou word vir die vermoorde Amerikaanse regse aktivis Charlie Kirk, in ‘n stadion met sitplek vir meer as 60-duisend mense. Die 31-jarige Kirk is Woensdag in Utah doodgeskiet, waarna sy vermeende moordenaar, Tyler Robinson, homself aan die polisie oorgegee het. Die hoofkantoor van Kirk se organisasie, Turning Point USA, is in Arizona waar hy en sy gesin gewoon het. Hy was ‘n omstrede figuur in Amerikaanse politieke sirkels. President Donald Trump gaan postuum ‘n presidensiële vryheidsmedalje aan hom toeken.
# Rugby: Suid-Afrika is weer boaan die wêreldranglys nadat hy Nieu-Seeland Saterdag in Wellington 43-10 verpletter het vir sy grootste oorwinning ooit oor sy aartsvyand. Ierland is tweede en die All Blacks skuif af na die derde plek. Frankryk en Engeland is onderskeidelik vierde en vyfde. Australië is sewende na sy naelskraapse nederlaag van 28-26 teen Argentinië, wat nou die sesde plek beklee. Dit is ‘n belangrike posisie vir Desember se trekking vir 2027 se Wêreldbekertoernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-37 teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-118-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-639-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-88-sent per vat.
# En laastens, die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê om ‘n geldige testament op te stel, bly een van die belangrikste stappe wat mense kan doen om hul gesinne te beskerm. Dit is dié week Nasionale Testamente-week, ‘n projek van die departement in samewerking met die Prokureursorde van Suid-Afrika en Regshulp Suid-Afrika. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê lede van die publiek kan dié week ‘n gratis testament opstel by deelnemende regspraktisyns landwyd:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….