Nuus 12:00
BULLETIN 15 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom koppel hierdie week weer twee-duisend-megawatt aan die kragnetwerk
# Die DA eis die onmiddellike opskorting van die duur Weermagopleiding in Kuba
# En rugby: Die Bokke is weer konings van die wêreld
# Eskom sê hy beplan om voor spitstyd vanaand en deur die week altesaam twee-duisend-835 megawatt opwekkingsvermoë weer in diens te stel. Dis ‘n poging om die bestendigheid van die land se elektrisiteitsnetwerk te versterk. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die beskikbare opwekkingsvermoë is tans 28-duisend-776 megawatt:
# Die DA eis die onmiddellike opskorting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se Kubaanse ontplooiingsplan. Die Weermag wil volgende jaar 20 van sy soldate teen 28-miljoen-rand na Kuba stuur vir kursusse, hoewel dit nie hier erken word nie. Die maandelikse koste per student vir die kursus van twee jaar beloop tussen 115- en 140-duisend-rand. Chris Hattingh van die DA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en die Weermag se leierskap moet verantwoording doen vir dié gruwelike vermorsing:
Nuus uit die buiteland:
# Die goewerneur van Utah, Spencer Cox, sê die verdagte in die moord op die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk gee nie sy samewerking aan die owerhede saam nie, maar mense na aan hom wel. Die 22-jarige Tyler Robinson is Donderdagaand in hegtenis geneem ná ‘n soektog van 33-uur. Kirk, ‘n bondgenoot van president Donald Trump, is Woensdag doodgeskiet terwyl hy by die Utah Valley-universiteit gepraat het op ‘n geleentheid van Turning Point USA, die organisasie waarvan hy medestigter was. Cox sê Robinson sal môre formeel aangekla word:
# Rugby: Suid-Afrika is weer boaan die wêreldranglys nadat hy Nieu-Seeland Saterdag in Wellington 43-10 verpletter het vir sy grootste oorwinning ooit oor sy aartsvyand. Ierland is tweede en die All Blacks skuif af na die derde plek. Frankryk en Engeland is onderskeidelik vierde en vyfde. Australië is sewende na sy naelskraapse nederlaag van 28-26 teen Argentinië, wat nou die sesde plek beklee. Dit is ʼn belangrike posisie vir Desember se trekking vir 2027 se Wêreldbekertoernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-35 teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-826-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-641-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane se Gesondheidsdepartement hervorm klinieke in klimaatsveerkragtige ruimtes. Hy doen dit deur bome te plant wat skaduwee verskaf om temperature te verlaag, natuurlike skerms teen hittegolwe te bied en sodoende koeler en veiliger omgewings te skep. Die projek is deel van die metro se verbintenis tot netto-nul-vrystelling en klimaatweerstandigheid teen 2050. Die burgemeesterskomiteelid vir Gesondheid, Tshegofatso Mashabela, sê die projek is in ooreenstemming met die groter Klimaataksieplan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….