Nuus 11:00
BULLETIN 15 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering bou aan ‘n verantwoordbare en bekwame Staatsdiens
# Utah se goewerneur sê Charlie Kirk se vermeende moordenaar gee nie sy samewerking aan die owerhede nie
# En rugby: Die voorste vier spanne in die wêreld dring deur na die halfeindronde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê wanneer die Staatsdiens goed funksioneer, is dit ‘n kragtige instrument vir maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, maar wanneer dit wankel, ly die kwesbaarste burgers daaronder. September is Staatsdiensmaand. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief die Staatsdiens ondervind beduidende uitdagings, insluitend korrupsie en te min vaardighede. Hy sê die regering versterk die professionele grondslag van die Staatsdiens deur hervormings om die regte vaardighede te lok en streng prestasiebestuur toe te pas.
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, sê die ondersoek na sy adjunk, Kenny Kunene, is byna afgehandel, sowat twee maande ná sy skorsing. Kunene word ondersoek ná sy besoek in Julie aan die huis van Katiso “KT” Molefe, die vermeende baasbrein agter die moord op Oupa Sefoka, algemeen bekend as DJ Sumbody. McKenzie sê hoewel die skorsing vir 30 dae vasgestel is, word deeglike prosesse gevolg.
# Die UDM vra die regering om met planne vorendag te kom om die voortslepende forensiese agterstand uit die weg te ruim. Waarnemende sekretaris-generaal Zandile Phiri sê die landswye agterstand word vererger deur meer as 140-duisend DNS-gevalle wat sedert Mei uitstaande is. Dit sluit meer as 28-duisend gevalle in wat verhoor moet word en waarby geslagsgeweld, vrouemoord, en ander geweldmisdade betrokke is. Phiri sê die vertragings verhoed tydige vervolging en ondermyn openbare vertroue in die regstelsel:
Nuus uit die buiteland:
# Die goewerneur van Utah, Spencer Cox, sê die verdagte in die moord op die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk gee nie sy samewerking aan die owerhede saam nie, maar mense na aan hom wel. Die 22-jarige Tyler Robinson is Donderdagaand in hegtenis geneem ná ‘n soektog van 33-uur. Kirk, ‘n bondgenoot van president Donald Trump, is Woensdag doodgeskiet terwyl hy by die Utah Valley-universiteit gepraat het op ‘n geleentheid van Turning Point USA, die organisasie waarvan hy medestigter was. Cox sê Robinson sal môre formeel aangekla word:
# Rugby: Die vier voorste spanne is deur na die halfeindronde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi. Die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, het Suid-Afrika 46–17 verpletter en ‘n opwindende halfeindstryd word Vrydag verwag teen die wêreld-nommer-twee, Kanada, wat Australië in die kwarteindronde 46–5 afgeransel het. In die ander deel van die trekking kom die gasvrou en wêreld-nommer-een, Engeland, Saterdag in Exeter teen Frankryk te staan. Engeland het Skotland 40-8 verslaan terwyl Frankryk Ierland naelskraaps 18-13 geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37 sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-58 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-275 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-636 dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-96-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….