Nuus 09:00
BULLETIN 15 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die National Freedom Party verwelkom die skorsing van Shadrack Sibiya
# Klein ondernemings moet aansoek te doen vir die Ondersteuningsprogram vir Sake-infrastruktuur
# En Adolescence en The Studio maak skoonskip by die Emmy Awards
# Die National Freedom Party verwelkom die nasionale adjunkpolisiekommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, se skorsing. Dit hou vermoedelik verband met bewerings dat Sibiya ingemeng het by die werk van die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde en probeer het om die eenheid te ontbind. Sibiya was die afgelope twee maande op verlof hangende ondersoeke na ernstige aantygings wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, in Julie gemaak het. ‘n NFP-woordvoerder, Zithembe Mkhwanazi, sê Sibiya moet aanspreeklik gehou word:
# Die Departement van Kleinsake-ontwikkeling moedig entrepreneurs en kleinsake-eienaars aan om hul aansoeke vir die Ondersteuningsprogram vir Sake-infrastruktuur voor die sperdatum op 30 September in te handig. Die program wil die groei en volhoubaarheid van Klein, Medium en Mikro-ondernemings verbeter deur die daarstelling van kritieke infrastruktuur, toerusting, tegnologie en energie-oplossings, veral in onderbediende gebiede. Die departement sê die program ondersteun die konstruksie van SMME-sentrums, die voorsiening van toerusting, gereedskap, masjinerie en hernubare energie, en bied sake-ontwikkelingsdienste om doeltreffendheid en mededingendheid te verbeter.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het die G20-leiers versoek om die ekonomiese geleenthede in en finansiering van klimaatsoptrede, asook die veerkragtigheid van stede te prioritiseer. ‘n Onlangse studie deur die Cities Climate Finance Leadership Alliance oor die stand van stede se finansiering vir klimaatsoptrede, toon dat stede in Afrika minder as vier-persent van die nodige befondsing ontvang. Moya sê die bemagtiging van stede is die kortste roete om nasionale klimaatdoelwitte te bereik:
# Motorsport: Ducati-renjaer Marc Marquez is nader aan sy sewende MotoGP-titel nadat hy die San Marino Grand Prix in Italië gewen het. Die Spanjaard het Aprilia-renjaer Marco Bezzecchi in die 12de ronde verbygesteek en nie weer teruggekyk nie. Bezzecchi was tweede en die Gresini Racing-deelnemer, Alex Marquez, was derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder was tiende. Marquez, wat met 182 punte voorloop, kan die titel dalk later vandeesmaand by die Japannese Grand Prix opraap, maar sê hy vat dit een wedren op ʼn slag:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36 sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-55 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-22-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-644 dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-4-sent per vat.
# En ter afsluiting, Netflix se Adolescence het ses toekennings op die 77ste Emmy-toekennings opgeraap. Dit sluit in beste beperkte of kort reeks, terwyl die 15-jarige Owen Copper as beste ondersteunende akteur aangewys is in ‘n beperkte reeks vir Adolescence en daarmee die jongste manlike wenner geword het van enige kategorie vir toneelspel. Seth Rogen het vier Emmy’s gewen vir sy komediereeks The Studio. The Pitt het twee Emmy’s gewen, insluitend beste dramareeks en beste akteur vir Noah Wyle. Tramell Tillman het die eerste swart man geword wat as Beste Ondersteunende Akteur in ‘n dramareeks aangewys is vir Severance.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….