Nuus 07:00
BULLETIN 15 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie is gemaklik met die tariewe wat aan getuienisleiers betaal word
# Netanyahu sê Israel se verhouding met die VSA was nog nooit sterker nie
# En krieket: Die reeks tussen Suid-Afrika en Engeland eindig onbeslis nadat die laaste T20 weens reën afgelas word
# Die Madlanga-kommissie verwerp bewerings dat ondersoekers en getuienisleiers meer as normale tariewe betaal sal word. Die koste van die kommissie word op 147,9-miljoen-rand beraam. Dit sal na verwagting styg omdat die kommissie waarskynlik nie sy werk binne ses maande sal afhandel nie. Die ondersoekers en getuienisleiers sal oor die ses maande meer as 64-miljoen-rand betaal word. Die kommissie sê die tariewe is billik en ooreenkomstig vereistes van die regsektorkode.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die Galg-opgrawingsprojek het die liggame hewin van diegene wat as politieke gevangene gehang is, en hulle families gehelp om hulle tuis met waardigheid te begrawe. Kubayi sê die Ballingskaprepatriasieprojek sal voortgaan om sy werk te doen om die oorblysels te herwin van mense wat tydens ballingskap dood is, deur polisie vermoor is, of in polisie-aanhouding gesterf en in vlak grafte begrawe is:
# Die Departement van Menslike Nedersettings in Gauteng veroordeel die misleidende inligting in sekere mediaberigte wat impliseer die behuisingsagterstand in die provinsie staan op 1,4-miljoen huise. Die woordvoerder van die departement, Tahir Sema, sê hierdie getal is nie ‘n akkurate weergawe van die werklike agterstand nie. Hy sê dit verteenwoordig die totale aantal name op die Nasionale Behuisingsbehoefteregister wat vir almal oop is en ook inwoners insluit wat nie kwalifiseer nie:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het Sondag in Jerusalem met Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, vergader. Dit volg ná Israel se aanval op ‘n Hamas-vergadering verlede week in Katar, ʼn belangrike Amerikaanse bondgenoot in die streek. Rubio se besoek volg terwyl Israelse magte voortgaan om woongeboue in Gaza-stad te vernietig, en duisende dwing om te vlug voor ʼn grondaanval om die stad in te neem. Netanyahu, wat Rubio op ʼn toer na die Westelike Muur vergesel het, sê Israel en Amerika se verhouding is sterk:
# Krieket: Gister se beslissende T20 tussen Suid-Afrika en Engeland by Trent Bridge is weens reën afgestel sonder dat ʼn enkele bal geboul is. Die Proteas het die aanvangswedstryd in Cardiff wat weens reën verkort is, met 14 lopies gewen, waarna Harry Brook se span sake by Old Trafford gelykop gemaak het met ʼn rekord-sege van 146 lopies. Die Suid-Afrikaanse groep maak nou gereed vir die plaaslike seisoen, asook ʼn multi-formaat-toer na Pakistan in Oktober. Hulle sal hul Wêreld-toetskampioenskapstitel in twee toetse verdedig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-78-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-631-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag is Internasionale Dag van Demokrasie, ‘n geleentheid om die stand van demokrasie in die wêreld te hersien. Vanjaar se tema is die Versekering van Effektiewe Bestuur van KI op Alle Vlakke. Dit beklemtoon die groeiende belangrikheid van kunsmatige intelligensie in die vorming van demokratiese prosesse en bestuur wêreldwyd. Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê demokrasie word aangedryf deur die wil van die mense, hul stemme, keuses en hul deelname:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….