Nuus 08:00
BULLETIN 13 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê die landbousektor is steeds veerkragtig
# Ford herroep meer as vyfduisend Rangers weens remprobleme
# En Prins Harry bring ‘n verrassingsbesoek aan Kiëf
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê ondanks die afname in die waarde van goedere-uitvoere in die eerste en tweede kwartale van hierdie jaar, toon Suid-Afrika se landbousektor steeds veerkragtigheid. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se betalingsbalansverslag, wat hierdie week vrygestel is, het die land se handelsoorskot van 211-miljard-rand tot 177,1-miljard-rand ingekrimp tussen die eerste en tweede kwartale:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, moedig die party se jeugliga aan om militant en polities bewus te wees en verbind te bly om Suid-Afrika se toekoms te vorm. Hy het by die liga se tweede nasionale algemene raad in Kimberley, Noord-Kaap gewaarsku teen faksies en onproduktiewe geskille. Mbalula het die jeugliga aangemoedig om die rewolusie te verdedig, dissipline te handhaaf, en pogings te lei met dienslewering voor die komende plaaslike verkiesing:
# Die mimister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die G20-Toerisme-ministersvergadering by die Krugerwildtuin is daarop gemik om voort te bou op die onlangse Toerismebeleggingsberaad. De Lille het beklemtoon toerisme het meer as agt-persent tot Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk bygedra en meer as tien-persent wêreldwyd. De Lille het aan SABC News gesê stygende besoekersgetalle bevorder werkskepping. Sy beklemtoon hoe dringend dit is om lugtoegang te verbeter, met nuwe infrastruktuur ter waarde van meer as een-miljard-rand wat reeds aangekondig is:
# Die Ford motorvervaardiger in Suider-Afrika het meer as vyf-duisend Ford Ranger-voertuie oor remprobleme herroep. Die 2025 en 2026 modelle kan ‘n verlies van pedaaldruk ondervind as gevolg van ‘n fout in die remversterkersagteware, wat die moontlikheid van botsings verhoog. Die herroeping raak ook voertuie in Botswana, Namibië en Eswatini. Die maatskappy moedig kliënte aan om handelaars te besoek vir gratis herstelwerk. Dit volg na verskeie ander herroepings hierdie jaar, insluitende Mustangs en Transit Custom-modelle.
# Prins Harry het ‘n verrassingsbesoek aan die Oekraïense hoofstad gebring nadat hy vroeër die week ‘n alleen-reis na Brittanje onderneem het waar hy met sy pa, koning Charles, herenig is vir hul eerste persoonlike ontmoeting in 19 maande. Die prins het in Kiëf aangekom met ‘n span van sy Invictus-spele-stigting en sal na verwagting nuwe projekte bespreek om die rehabilitasie van gewonde Oekraïners te ondersteun. Reuters het vroeër berig sy stigting sal byna nege-miljoen-rand skenk om kinders van Gaza en Oekraïne te ondersteun.
# En krieket: Phil Salt se rekordtelling van 141 nie uit, het die grondslag gelê vir Engeland se rekordtelling van 304 vir twee, wat meer as voldoende was vir ‘n oorwinning met 146 lopies teen Suid-Afrika in die tweede T20 op Old Trafford in Manchester gisteraand. Salt se honderdtal het gekom van slegs 39 balle met ‘n magdom rekords wat verbeter is toe die tuisspan Suid-Afrika se aanval aan flarde geskeur het nadat hulle gevra is om eerste te kolf. Die derde en beslissende kragmeting vind môre op Trent Bridge in Nottingham plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….