Nuus 14:00
BULLETIN 12 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Organisasie verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor geslagsgelykheid in die wet oor vanne
# Bester se regsverteenwoordiger is teleurgesteld oor die mislukking om ‘n Netflix-dokumentêr te stop
# En krieket: Net vroue gaan skeidsregters wees op die Wêreldbekertoernooi vir Vroue
# Die organisasie Lawyers for Human Rights verwelkom die Konstitusionele Hof se baanbreker-uitspraak, wat bevestig dat Artikel 26 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes ongrondwetlik en onbillik diskriminerend is op grond van geslag. Die organisasie se regsverteenwoordiger, Mametlwe Sebei, sê die uitspraak bevestig dat die reg om ‘n mens se van in ‘n huwelik te kan kies ‘n basiese beginsel van persoonlike identiteit en outonomie is:
# Die veroordeelde moordenaar Thabo Bester se regsverteenwoordiger, Courage Morero, is teleurgesteld omdat die Hooggeregshof in Pretoria sy en Nandipha Magudumana se dringende aansoek verwerp het om Netflix se dokumentêr, Beauty and the Bester, te verbied. Regter Sulet Potterill het beslis Bester het toegang tot ander regsmiddels en voorafgaande beperking is nie die enigste keuse nie. Morero voer aan skadevergoeding sal nie die skade ongedaan maak nie, maar sê Bester sal aanhou veg om homself te beskerm:
# Johannesburg en Tshwane is medevoorsitters van die 2025 Urban 20-burgemeestersberaad in Johannesburg, ‘n globale diplomatieke projek wat stedelike voorkeure binne die G20-agenda versterk. Die beraad is byeengeroep deur C40 Cities en United Cities and Local Governments. Die medevoorsittersrol plaas Afrika-stede aan die voorpunt van globale stedelike bestuur en volhoubare transformasie. Die beraad sal fokus op klimaatsoptrede, volhoubare ontwikkeling, inklusiewe groei en toegang tot befondsing. Die belangrikste uitkoms, die U20 Communiqué, sal stadsgeleide oplossings aan die G20 lewer.
# Krieket: Die komende Wêreldbekertoernooi vir Vroue sal die eerste keer net vroue op die skeidsregterpaneel hê, met 14 skeidsregters en vier wedstryd-skeidsregters. Die groep sluit Claire Polosak, Jacqueline Williams en Sue Redfern in wat aan hulle derde Wêreldbekertoernooi deelneem. Die voorsitter van die Internasionale Krieketraad, Jay Shah, sê hierdie grondverskuiwende oomblik gaan oor sigbaarheid, geleenthede en die skep van betekenisvolle rolmodelle. Die 13de weergawe van die toernooi begin die 30ste in Indië en Sri Lanka.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-36 teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-995-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-649-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-59-sent per vat.
# En laastens, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Sonkrag-motorprojekspan het vanjaar se gesogte kommunikasieprys van die Internasionale Raad vir Akademies van Ingenieurswese en Tegnologiese Wetenskap in Australië opgeraap. Die universiteit se inskrywing met die titel, Sustainable Automotive Technologies: a TUT Case Study, het finaliste uit China, Indië, Amerika, Nederland, die Verenigde Koninkryk, Pole, Mexiko en Uruguay uitgestof. Die projek se medebestuurder, Johannes de Vries, sê die doel is om volhoubare tegnologie te omarm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….