Nuus 13:00
BULLETIN 12 September 1 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Forum sê die Konstitusionele Hof se uitspraak oor mans wat hulle vrouens se vanne mag aanneem ondermyn Suid-Afrika se kultuur
# Adjunkpresident Mashatile sê munisipaliteite verdrink in 25-mijard-rand se waterskuld
# En die legendariese oud-Bok Jan “Boland” Coetzee sterf op 80
# Die Forum for South Africa het die Konstitusionele Hof se uitspraak veroordeel wat mans toelaat om kragtens wet hul vrouens se vanne aan te neem. Die hof het bevestig dat dele van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes ongrondwetlik is, wat in wese ‘n laer hof se uitspraak handhaaf. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die uitspraak is ‘n blatante aanval op Suid-Afrika se kultuur, godsdiens en gebruike, en ondermyn erfenis en tradisies wat reeds eeue lank bestaan:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering gaan strenger maatreëls instel teen munispaliteite wat nie hulle waterbetalings handhaaf nie. Mashatile het aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê munisipaliteite het in Junie meer as 25-miljard-rand aan waterrade geskuld. Hy sê metro’s, insluitende Johannesburg en Tshwane in Gauteng en Mangaung in die Vrystaat, het hulle reeds hul rekenings vereffen:
# AfriForum Jeug betreur die moord op die Amerikaanse konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk, wat Woensdag op ‘n universiteitskampus in Utah doodgeskiet is. Die groep het ‘n krans gelê by die Amerikaanse ambassade in Pretoria en sy meegevoel aan die familie oorgedra. AfriForum het in ‘n huldeblyk Kirk se geloof, moed en invloed op jongmense wêreldwyd geprys. Woordvoerder Louis Boshoff sê die moord is ‘n aanduiding van die groeiende onverdraagsaamheid teenoor konserwatiewe stemme en beklemtoon dat goed-gegronde betoë aangehoor moet word ondanks teenstand.
# Die legendariese oud-Springbok Jan “Boland” Coetzee is op 80-jarige ouderdom oorlede. Hy het ook vir Westelike Provinsie en Maties uitgedraf. Coetzee het tussen 1974 en ’76 ses toetse vir Suid-Afrika gespeel, insluitend 1976 se tuisreeks teen die All Blacks wat die Bokke 3-1 gewen het. Coetzee het WP van 1967 tot ’79 verteenwoordig en was jare lank ‘n lid van die Universiteit Stellenbosch se rugbyspan. Hy het later ʼn bekende wynmaker geword op sy plaas, Vriesenhof, naby Stellenbosch.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-39 teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-987-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-645-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Afgetrede skoolhoof, Alui Tshigabe, het sy lewenslange droom vervul deur ʼn doktorsgraad binne slegs 26 maande te verwerf, al het baie mense getwyfel of hy dit binne so ʼn kort tydjie sou regkry. Die 68-jarige het sy PhD in Filosofie aan die Universiteit van Venda verwerf. Hy sê baie mense het gesê dit sal vier jaar neem om die doktorsgraad te voltooi, maar hy was vasbeslote om hulle verkeerd te bewys. Tshigabe sê hy werk nou aan ʼn boek oor die natuurlewe in die Krugerwildtuin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….