Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die T20-reeks tussen Engeland en Suid-Afrika verskuif vandag na Old Trafford in Manchester nadat die Proteas Woensdag die reën-ontwrigte eerste wedstryd in Cardiff, Wallis, gewen het. Die wedstryd is na nege boulbeurte per span verkort na ‘n vertraging van twee-uur. Suid-Afrika het 97 vir vyf bereik na sewe boulbeurte en vyf balle toe dit weer begin reën het. Engeland moes 69-lopies in vyf boulbeurte bereik na ‘n Duckworth-Lewis-Stern-aanpassing en kon slegs 54 vir vyf haal. Die laaste T20 word Sondag op Trent Bridge in Nottingham gespeel.
Nog krieketnuus: Die komende Wêreldbekertoernooi vir Vroue sal die eerste keer net vroue op die skeidsregterpaneel hê, met 14 skeidsregters en vier wedstryd-skeidsregters. Die groep sluit Claire Polosak, Jacqueline Williams en Sue Redfern in wat aan hulle derde Wêreldbekertoernooi deelneem. Die voorsitter van die Internasionale Krieketraad, Jay Shah, sê hierdie grondverskuiwende oomblik gaan oor sigbaarheid, geleenthede en die skep van betekenisvolle rolmodelle. Die 13de weergawe van die toernooi begin die 30ste in Indië en Sri Lanka.
# Rugby: Die groter Stormers-groep begin hulle voorseisoense kamp vandag met ‘n vriendskaplike wedstryd teen die Haaie in George. Die span kom ses-uur vanaand op Outenikwa-park teen die Durbaniete te staan. Die groep van 28 sal die grootste deel van die week in die Suid-Kaap deurbring voor die fokus verskuif na hulle eerste Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die verdedigende kampioen, Leinster, in Kaapstad die 26ste.
# Gholf: Ludvig Åberg van Switserland en die Fransman Tom Vaillant het agt-onder 64 aangehou vir ‘n gesamentlike voorsprong van een hou na ‘n reën-ontwrigte aanvangsronde van die PGA-kampioenskap op Wentworth in Engeland. Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis met sewe onder, is een hou agter in die derde plek. Matt Fitzpatrick van Engeland is twee agter en die Noorweër Viktor Hovland, Shane Lowry van Ierland en Justin Rose van Engeland drie houe agter. Rory McIlroy van Noord-Ierland is vyf houe agter na ʼn aanvangsronde van 69.
# En atletiek: Usain Bolt glo hy sou die 100-meter in 9,42 sekondes kon afblits in die super-spykerskoene wat deesdae gebruik word. Die Jamaikaan het die wêreldrekord van 9,58 sekondes in 2009 opgestel op die wêreldkampioenskap in Berlyn, Duitsland, en ook die wêreldrekord van 19,19-sekondes in die 200-meter op dieselfde byeenkoms. Albei staan steeds. Bolt stem saam met Puma, wat sy hardloopskoene verskaf het, wat deur navorsing bevind het hy sou ‘n nuwe wêreldrekord kon opstel in hulle nuwe koolstof-spykerskoene.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….