Nuus 08:00
BULLETIN 12 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC NUK-vergadering sal beraadslaag oor die stand van plaaslike regering en die SAKP
# Brasilië se voormalige president Jair Bolsonaro is tot meer as 27 jaar tronkstraf gevonnis
# En rugby: Die voormalige Springbok-heelagter Bevin Fortuin is op 46-jarige ouderdom oorlede
# Die ANC hou die naweek in Ekurhuleni sy Spesiale Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering. Die party se hoogste besluitnemingsliggaam sal onder meer die stand van plaaslike regering en die dubbele lidmaatskap van lede van die ANC en SAKP bespreek. Dit volg na die SAKP se besluit om onafhanklik aan volgende jaar se munisipale verkiesing deel te neem. Die ANC sê die tweedaagse vergadering sal Maandag eindig met ‘n vergadering waar raadslede moet verslag doen van hul werk sedert die 2021 munisipale verkiesing.
# Die adjunk-minister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, sê die Presidential Youth Employment Initiative het sedert sy begin in 2020 sy einddoel om vyf-miljoen jong mense te bereik, verbygesteek. Die inisiatief bevorder aktiewe burgerskap deur jong mense by gestruktureerde diensgeleenthede te betrek om tot hul gemeenskappe by te dra terwyl hulle vaardighede, werksgereedheid en lewensvaardighede opbou. Mhlauli sê die NYS het al meer as 84-duisend jong mense in betaalde diens geplaas:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, verwelkom die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak dat die polisieklopjag op die kantore van twee burgemeesterskomiteelede onregmatig en ongrondwetlik was. In Januarie het 39 polisiebeamptes op JP Smith en Xanthea Limberg se kantore toegesak ná die ontleding van drie swart boeke wat verband hou met die vermeende bendebaas, Ralph Stanfield. Hill-Lewis sê die klopjag is duidelik op vals gronde uitgevoer:
# Brasilië se voormalige konserwatiewe president Jair Bolsonaro is tot 27 jaar en drie maande tronkstraf gevonnis. ʼn Paneel van vyf Hooggeregshof-regters het hom skuldig bevind aan ʼn poging om die land se 2022-verkiesing deur ʼn militêre bewindsoorname om te keer. Bolsonaro is ook skuldig bevind dat hy deel was van ʼn gewapende misdadige organisasie, dat hy probeer het om Brasilië se demokratiese orde met mag omver te werp, geweld teen staatsinstellings gepleeg het en beskermde staatseiendom beskadig het. Die 70-jarige Bolsonaro mag hom eers teen 2033 weer beskikbaar stel vir ʼn regeringspos.
# Rugby: Die voormalige Springbok-heelagter en Northam Rhinos se hoofafrigter, Bevin Fortuin, is op 46-jarige ouderdom dood. Hy het volgens berigte net voor ʼn beplande oefensessie ʼn hartaanval gekry. Fortuin het twee keer vir die Springbokke uitgedraf. Hy het in 2006 sy toetsdebuut teen Ierland gemaak en in die Drienasies-reeks in 2007 teen Australië gespeel. Op klubvlak het hy uitgedraf vir die SWD Arende en die Cheetahs. Northam Rhinos sê Fortuin se reusebydrae, op en van die veld, is ʼn onmeetlike nalatenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-243-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-651-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….