Nuus 18:00
BULLETIN 11 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê gekoördineerde nasionale, provinsiale en plaaslike regering is die sleutel tot doeltreffende dienslewering
# AfriForum Jeug en ses-duisend ondersteuners eis ‘n verbod op “Kill the Boer” op die Potch-kampus
# En rugby: Die Bok-vroue pak Nieu-Seeland met ‘n “bomb squad” in die Wêreldbeker-kwarteindstryd
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê gekoördineerde pogings tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regering is die sleutel tot die verbetering van dienslewering. Mashatile het geantwoord op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies, en verwys na die veldtog vir skoon stede en dorpe om skoner, veiliger en meer inklusiewe ruimtes te bevorder. Hy voeg by ingypings by sukkelende munisipaliteite, insluitend opleiding en onderhoude vir burgemeesters en amptenare, sal help om verantwoordbaarheid te verseker en te sorg dat noodsaaklike dienste gemeenskappe doeltreffend kan bereik:
# AfriForum Jeug en studente van Noordwes Universiteit het vandag op die Potchefstroomse kampus betoog en ‘n verbod geëis op die slagspreuk “Kill the Boer”. ‘n Versoekskrif met meer as ses-duisend handtekeninge is aan bestuur oorhandig nadat die slagspreuk in Junie op die kampus gesing is. Betogers sê die instelling se stilswye oor die kwessie is onaanvaarbaar. Yvonne Gerber van AfriForum Jeug hou vol die universiteit moet die slagspreuk volstrek verbied en tugstappe doen teen die betrokkenes:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ‘n studente-onderwyser met ‘n beheerliggaampos aan Sunward Park High School in Boksburg ontslaan ná bewerings van seksuele aanranding en die verbale mishandeling van skoolmeisies. Die onderwyser, wat verlede maand geskors is, is tydens ‘n dissiplinêre verhoor in sy afwesigheid skuldig bevind aan wangedrag en afgedank. Die woordvoerder, Steve Mabona, sê LUR Matome Chiloane veroordeel sy optrede en sê skole moet veilige ruimtes bly:
# Rugby: Die afrigter van die Springbok-vroue, Swys de Bruin, het sewe voorspelers en een agterspeler op die plaasvervangerbank gekies vir Saterdag se Wêreldbeker-kwarteindstyd teen Nieu-Seeland. Die slot Nolusindiso Booi is kaptein van die span wat hoofsaaklik bestaan uit die spelers wat Italië in ‘n groepswedstryd geklop het. De Bruin sê hulle het op ‘n “bomb squad” besluit om te pas by die profiel van die span, wat daarvan hou om voorlangs te oorheers. Hy beskryf die gebruik van ‘n nuwe pak voorspelers in elke helfte as ‘n taktiese besluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-43 teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-158-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-637-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, dit is vandag die derde herdenking van die dag in 2022 toe die wal van die Jagersfonteindam in die Vrystaat gebreek en dele van die dorp oorstroom het. Sowat 140 gesinne is geraak. Twee mense is dood en een word steeds vermis. Negentig gesinne het die herbouprojek van 150-miljoen-rand aanvaar wat deur Jagersfontein-myn gelei word. Ander eis regsvergoeding. Die Menseregtekommissie en burgerlike samelewingsgroepe hou steeds die verwikkelinge dop en vra dat die ondersoekverslag vrygestel moet word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….