Nuus 16:00
BULLETIN 11 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal styg tot vyf na ‘n taxi in ‘n kleuterskool vasry in Pietermaritzburg
# Starmer dank Mandelson af as Amerikaanse ambassadeur oor e-posse aan Epstein
# En sporttoerisme gaan gebruik word om Suid-Afrika te bemark
# Die dodetal het tot vyf gestyg nadat ‘n taxi vanoggend in Imbali, Pietermaritzburg, teen ‘n kleuterskool vasgejaag het. Meer as tien kinders is beseer. Die bestuurder van die taxi het leerders van verskeie plaaslike skole vervoer, en het beheer verloor op ‘n draai voordat die voertuig teen ‘n boom gebots en op die skoolterrein omgeslaan het. Die woordvoerder van die provinsiale Onderwysdepartement, Muzi Mahlambi, sê sielkundige ondersteuning is gereël vir gesinne, skole en die gemeenskap:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê geregtigheid het geseëvier in die stryd teen mensehandel nadat sewe Chinese burgers tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is vir mensehandel, kinderarbeid, en oortredings van arbeidswette. Die saak het ’n onwettige Johannesburgse fabriek betrek waar 91 werkers van Malawi, insluitende kinders, vanaf 2017 tot 2019 onmenslike omstandighede moes verduur. ‘n Woordvoerder vir die ministerie, Thobeka Magcai, sê die vonnis stuur ‘n sterk boodskap uit dat uitbuiting nie geduld sal word nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het Peter Mandelson afgedank as ambassadeur in Amerika ná toenemende kritiek op sy verhouding met die ontslape Amerikaanse kinderseks-oortreder Jeffrey Epstein. Buitelandse Sake sê in ‘n verklaring die besluit is geneem weens bykomende inligting in e-posse wat Mandelson geskryf het. Dit toon die diepte en omvang van sy verhouding met Epstein het wesenlik verskil van wat bekend was tydens sy aanstelling. Mandelson was ‘n belangrike skakel tussen Starmer en die Amerikaanse president, Donald Trump, in ‘n kritieke diplomatieke tyd tussen die lande.
Nou sportnuus:
# Die Department van Toerisme beoog om aanloklikhede soos sporttoerisme te gebruik om toerisme uit te brei. Die minster van Toerisme, Patricia de Lille, het tydens die bekendstelling van die eerste Toerisme-beleggingsberaad met SABC News gepraat. Sy sê die departement sal deur ‘n vennootskap met die Departement Sport, Kuns en Kultuur, geleenthede soos die LIV-Gholftoernooi in Maart en 2027 se Wêreldbeker-kriekettoernooi benut om Suid-Afrika as ‘n voorkeur-bestemming te bemark:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-46 teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-255-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-625-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Restaurant in Kaapstad, Wiggle Room, het ‘n eerste-van-sy-soort-eetkonsep bekendgestel waar gaste die spyskaart bepaal deur hulle Spotify-speellyste. Volgens Good Things Guy verander die eetplek met 12-sitplekke elke twee tot drie dae hulle spyskaart. Een aand word garnaal-roosterbrood aangebied wat soos album-kuns lyk, en daarna ‘n gedroogde gereg wat smooth jazz weerspieël. Sjef Ishmael Amos sê die gaste eet nie net nie, hulle bou bande en ontdek, want die speellys bepaal die spyskaart en atmosfeer. Elke ete is ‘n ondervinding van verweefde musiek en kos.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….