Nuus 11:00
BULLETIN 11 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers moet onmiddellik in die Parlement ter tafel gelê word
# Katar sê die Israelse lugaanvalle het enige hoop vir die gyselaars in Gaza vernietig
# En rugby: Die All Blacks se afrigter maak ses veranderings aan die span vir die kragmeting met die Springbokke in Wellington
# Die DA vra die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, om sonder versuim die langverwagte Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers in die Parlement ter tafel te lê. Glynnis Breytenbach van die party sê die wrede moord op Bouwer van Niekerk, wat by sy regsfirma doodgeskiet is terwyl hy korrupsie sou ontbloot, bevestig Suid-Afrika is nou ʼn mafiastaat. Sy sê die DA gaan nie toelaat dat die wetsontwerp onder eindelose vertragings begrawe word nie:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê hy bly verbind tot die versterking van aanspreeklikheid, etiese leierskap en beter dienslewering in munisipaliteite. Die vereniging het ʼn prestasiekoers van 98-persent aangeteken, asook sy 13de agtereenvolgende ongekwalifiseerde ouditmening. SALGA se president, Bheke Stofile, sê hulle doelwit is om munisipaliteite se vermoë te versterk, raadslede en amptenare te ondersteun om met integriteit te lei, en seker te maak gemeenskappe sien ʼn verbetering in bestuur en dienslewering.
Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê intussen die metro se kapitale begroting het nie by die omvang van ontwikkeling bygehou nie. Suid-Afrika se hoofstad het ondernemings van 86-miljard-rand verseker om met die opgradering van die metro, ekonomiese groei en werkskepping te help. Moya sê met die huidige pas van belegging, sal dit 36 jaar neem om die infrastruktuur te befonds wat Tshwane in die volgende dekade nodig het. Sy sê die gaping kan nie net deur openbare befondsing oorbrug word nie:
Nuus uit die buiteland:
# Katar se eerste minister, Mohammed bin Abdulrahman bin Jassim al-Thani, glo Israel se aanval Dinsdag op Doha het alle hoop vernietig vir die ooblywende gyselaars. Die lugaanval het senior Hamas-leiers geteiken en vyf is dood. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die aanval was geregverdig want dit was gemik teen wat hy noem die terroriste wat die Hamas-geleide aanvalle op 7 Oktober 2023 beplan het. Al-Thani het die aanval in ʼn onderhoud met CNN as staatsterreur beskryf:
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Scott Robertson, het ses veranderinge aangebring aan die span wat Saterdag in Wellington teen Suid-Afrika uitdraf in hulle tweede Rugbykampioenskapstoets. Die nuweling Leroy Carter vervang Rieko Ioane op linkervleuel. Samisoni Taukei’aho staan in vir Codie Taylor, wat harsingskudding het. Will Jordan verskuif van heelagter na regtervleuel in die plek van die beseerde Emoni Narawa. Noah Hotham en Tyrel Lomax is terug in die opdrafspan en Brodie McAlister is op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-252-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-630-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….