Goeie Nuus
BULLETIN 10 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Meer as 20-duisend inskrywings van 30 lande is vir die Musiekfotografie-toekennings ontvang. Abbey Road Studios het die benoemdes aangekondig met twee nuwe kategorieë wat bygevoeg is: portrette en feeste. Die foto’s wat ingeskryf is, beeld onder ander sterre soos Chapple Roan, Lana Del Rey, Charli XCX, Maggie Rogers, Doja Cat, and Burna Boy uit. Al 40 foto’s wat benoem is, sal laer die maand in Outnet se Now Pop One-ruimte in Londen tentoongestel word. Die toekenningseremonie word op 2 Oktober in Abbey Road, London, gehou.
# Die Realness Institute, in vennootskap met The StoryBoard Collective en die Canada Media Fund, het die vier Afrika-deelnemers vir die 2025 AuthenticA Series Lab aangekondig. Hulle is Ghana se storieverteller Gamel Apalayine, die Nigeries-Britse digter en rolprentmaker Joladé Olusanya, die bekroonde Keniaanse draaiboekskrywer Mona Ombogo en die bekroonde Egipties-Kanadese rolprentmaker Reem Morsi. Die program gee draaiboekskrywers ‘n unieke geleentheid om hul oorspronklike idees in episodiese storievertelling oor enige genre te omskep. Die vier gaan aan drie byeenkomste in Suid-Afrika, Switserland en Frankryk deelneem.
# Die Amerikaanse kleinhandelreus Walmart beplan om sy eerste handelsmerkwinkels in Suid-Afrika oop te maak. Dit volg ná sy groeiberaad waartydens Afrika-gebaseerde verskaffers gewerf is. Massmart se uitvoerende hoof, Miles van Rensburg, sê Walmart beoog om alledaagse lae pryse te bied en plaaslike verskaffers te ondersteun. Hy sê die bekendstelling sal werksgeleenthede en digitale inkopie-ervarings bevorder. Van Rensburg het bevestig terreinontwikkelings is aan die gang en liggings en openingsdatums sal binnekort aangekondig word:
# Die Universiteit van die Vrystaat het die Good Money Habits-toepassing bekendgestel om ondernemings in die informele sektor en townships te ondersteun. Dit is deel van ‘n navorsingsprojek van die Sentrum vir Ontwikkelings-ondersteuning wat doeltreffende maniere ondersoek om informele ondernemings te ondersteun. Dit bied 15 kort video’s aan oor praktiese, dag-tot-dag finansiële bestuur vir township- en mikro-ondernemings. Die universiteit sê die platform kan in die toekoms uitgebrei word deur inhoud in plaaslike tale te plaas om toeganklikheid te verbeter.
# En ten slotte: Die produsente Babylonstoren, die DE Rustica-landgoed en Mardouw-beleggings is sommige van die groot wenners van vanjaar se SA Olyftoekennings wat in Wellington in die Wes-Kaap gehou is. Dit plaas die kollig op olyfboere wat hulself toelê op die vervaardiging van premium-olies wat met die beste in die wêreld kan meeding. ‘n Paneel kenners het die olies gesertifiseer en goue, silwer of brons seëls van uitmuntendheid toegeken. Die uitvoerende hoof van SA Olive, Wendy Petersen, sê die toekennings vier die hele bedryf se verbintenis tot gehalte en oorspronklikheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….