Nuus 14:00
BULLETIN 10 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika tree op om internasionale reg te handhaaf in Gaza
# Sewe mense is sedert Maandag in Kaapstad doodgeskiet
# En krieket: Sophie Devine gaan Nieu-Seeland aanvoer op die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het aan die Parlement gesê Suid-Afrika se optrede volg die Volksmoordkonvensie na en geskille oor staatsverantwoordelikheid moet na die Internasionale Geregshof verwys word. Lamola het bewyse van volksmoordverklarings deur Israelse amptenare uitgelig en aanvalle op burgerlikes in Gaza veroordeel. Hy beklemtoon Suid-Afrika sal voortgaan om geregtigheid deur globale instellings na te streef om verantwoordbaarheid en die wêreldwye toepassing van humanitêre reg te verseker:
# Die Kaapstadse polisie ondersoek sewe moordsake wat gister en eergister in Wallacedene en Eikendal aangemeld is. Die slagoffers was tussen 19- en 25-jaar oud. ‘n Polisiewoordvoerder, Wesley Twigg, sê in Wallacedene is drie vroue en twee mans in twee afsonderlike voorvalle dood. Hy sê die moontlikheid bestaan dat die voorvalle met mekaar verband hou:
ActionSA het intussen ‘n brief aan president Cyril Ramaphosa in die Parlement oorhandig waarin hy pleit vir die afkondiging van ‘n noodtoestand op die Kaapse Vlakte. Twee-honderd-en-agt van die 240 bendeverwante moorde tussen Januarie en Maart vanjaar het in die Wes-Kaap plaasgevind. Dereleen James van ActionSA sê die slagoffers van bende- en dwelmverwante misdade is mense wat veiligheid, waardigheid en vryheid van vrees verdien, nie verlating en verwaarlosing nie:
# Krieket: Sophie Devine gaan Nieu-Seeland aanvoer op die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Indië en Sri Lanka, wat haar vyfde toernooi sal wees. Die Wit Varings het ses spelers in hul groep ingesluit wat die eerste keer in die toernooi sal speel en vier wat in hulle eerste senior Internasionale Krieketraad-toernooi speel. Die 22-jarige veelsydige speler Flora Devonshire is ‘n nuweling in die eendag-groep. Afrigter Ben Sawyer sê hy is tevrede met die balans van die groep, gegewe die toestande en teenstanders.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-301-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-655-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-75-sent per vat.
# En laastens: Die Universiteit van die Vrystaat het die Good Money Habits-toepassing bekendgestel om ondernemings in die informele sektor en townships te ondersteun. Dit is deel van ʼn navorsingsprojek van die Sentrum vir Ontwikkelings-ondersteuning wat doeltreffende maniere ondersoek om informele ondernemings te ondersteun. Dit bied 15 kort video’s aan oor praktiese, dag-tot-dag finansiële bestuur vir township- en mikro-ondernemings. Die universiteit sê die platform kan in die toekoms uitgebrei word deur inhoud in plaaslike tale te plaas om toeganklikheid te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….