Nuus 11:00
BULLETIN 10 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê die nasionale dialoog se uitkoms moet teen deelname en optrede gemeet word
# Walmart open sy eerste winkels in Suid-Afrika teen einde vanjaar
# En Russiese hommeltuie word oor Pole afgeskiet
# Die Vryheidsfront Plus sê die moontlike uitkomste van die nasionale dialoog moet teen deelname aan die nasionale konvensie gemeet word, en die uiteindelike toets sal wees of die probleme hanteer word. President Cyril Ramaphosa het vrae in die Parlement beantwoord en gesê die konvensie weerspieël die breë verskeidenheid in Suid-Afrika. Die VF Plus sê die kernprobleem met die dialoog is die ANC wat volhou hy gaan nie sy beleidsrigtings verander nie, en dit sluit regstellende optrede en onteiening sonder vergoeding in.
# Die Amerikaanse kleinhandelreus Walmart beplan om sy eerste handelsmerkwinkels in Suid-Afrika oop te maak. Dit volg ná sy groeiberaad waartydens Afrika-gebaseerde verskaffers gewerf is. Massmart se uitvoerende hoof, Miles van Rensburg, sê Walmart beoog om alledaagse lae pryse te bied en plaaslike verskaffers te ondersteun. Hy sê die bekendstelling sal werksgeleenthede en digitale inkopie-ervarings bevorder. Van Rensburg het bevestig terreinontwikkelings is aan die gang en liggings en openingsdatums sal binnekort aangekondig word:
# ‘n Gesinsdrama in Mamelodi-Oos, Pretoria, het gisteraand tragies geëindig toe ʼn polisiekonstabel eers sy tienerneef en toe homself doodgeskiet het. Die 32-jarige Thapelo Mashego het sy 69-jarige ma en neef 16 uur lank gyselaar gehou in ʼn vermeende familietwis. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê gyselaarbemiddelaars kon die konstabel gisteraand 11-uur oorreed om sy ma vry te laat, waarna sy hospitaal toe geneem is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Poolse Weermag sê hy het hommeltuie afgeskiet wat sy lugruim geskend het tydens ‘n Russiese aanval op Oekraïne. Dit is die eerste keer dat die land regstreeks met Russiese teenwoordigheid in sy lugruim te doen het sedert die Oekraïnse oorlog in 2022 begin het. Moskou het vroeër die week sy grootste lugaanval ooit op Kiëf van stapel gestuur met meer as 800 hommeltuie. ‘n Regeringsgebou is geteiken. Die Poolse Leër sê dis ‘n daad van aggressie wat ‘n wesenlike bedreiging vir die veiligheid van sy burgers inhou.
# Rugby: Die Springbok-agterspeler Ethan Hooker sê hy is tegelykertyd senuweeagtig en opgewonde, maar fokus net daarop om na die beste van sy vermoë te speel. Die 22-jarige speler draf Saterdag die eerste keer in die opdrafspan uit wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Wellington kragte meet. Hy was verlede week in Edenpark op die plaasvervangersbank. Hooker sê sy enigste doelwit is om uit te gaan en homself sonder vrees uit te druk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-819-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-644-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….