Nuus 17:00
BULLETIN 9 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beskou die Amerikaanse tariewe as ‘n kans om Suid-Afrika se uitvoermarkte uit te brei
# Build One SA sê BBP-groei van 0,8-persent toon die regering misluk met werksgeleenthede en voortbestaan
# En krieket: Brevis en Markram haal reuse-pryse op die SA20 se spelersveiling
# President Cyril Ramaphosa het parlementslede verseker die regering en Amerika bespreek die tariewe van 30-persent op plaaslike uitvoere. Ramaphosa het op mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering geantwoord. Hy sê Suid-Afrika werk daaraan om handel buite Amerika na Afrika, Latyns-Amerika, Asië en die Midde-Ooste uit te brei, terwyl plaaslike uitvoerders ondersteun word deur maatreëls soos werkskapitaal en bystand met toerusting:
# Build One South Africa sê die jongste bruto binnelandse produksyfers toon die ekonomie slaag nie daarin om werklik te groei nie, ná groei van 0,8-persent van April tot Junie. Die party sê stadige groei beïnvloed werksgeleenthede, inkomste en Suid-Afrikaners se daaglikse voortbestaan. Roger Solomons van BOSA vra die regering om die party se plan vir voorspoed aan te neem om vyf-persent ekonomiese groei te bereik met hervormings in sake-, infrastruktuur-, arbeids- en vaardigheidsontwikkeling:
# ActionSA sê hy is erg bekommerd oor die toestand van die Mananga-grenspos en omliggende gebiede soos Magudu in Mpumalanga. Die swak veiligheidsmaatreëls op die grens maak onwettige kruisings, misdaad en smokkelary moontlik wat die gemeenskappe naaste aan die grens kwesbaar laat. Norman Sibitane van ActionSA sê die Grensbestuursowerheid het nie voldoende vermoë nie en vra dringende nasionale optrede, sterker patrollies en behoorlike befondsing om Suid-Afrika se soewereintiteit en landsburgers te beskerm, en wet en orde langs hierdie grense te handhaaf:
Nuus uit die buiteland:
# Pro-Palestynse betogers het by die opening van ’n groot wapententoonstelling in Londen bymekaargekom. Israelse regeringsamptenare woon nie die tentoonstelling by nie weens spanning tussen Brittanje en Israel oor die Gaza-konflik. Die polisie het toegekyk hoe ongeveer 300 betogers Palestynse vlae swaai en plakkate dra, onder meer een met die slagspreuk: “Brittanje: Hou op om Israel te bewapen. Stop die Gaza-volksmoord“. Die Britse regering het Israelse amptenare verbied om die vierdaagse geleentheid by te woon, maar 51 Israelse verdedigingsmaatskappye beplan om daar te wees.
# Krieket: Die plofbare Protea-kolwer Dewald Brevis en sy T20-kaptein, Aiden Markram, is die vroeë wenners in die spelerveiling vir SA20 se vierde seisoen. Pretoria Capitals het 16,5-miljoen-rand betaal vir Brevis en Durban’s Super Giants 14-miljoen-rand vir Markram. Joburg Super Kings het Wiaan Mulder vir nege-miljoen-rand gekoop en Capitals het die Protea-draaibouler Keshav Maharaj vir 1,7-miljoen-rand aangeskaf. Durban het die 19-jarige Protea-snelbouler Kwena Maphaka vir 2,3-miljoen-rand gekoop. Die veteraan-paaltjiewagter Quinton de Kock het 2,4-miljoen ingepalm van Sunrisers Eastern Cape en Capitals het die snelbouler Lungi Ngidi vir 2,3-miljoen-rand gekoop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-617-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-654-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….