Goeie Nuus
BULLETIN 9 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# PNA wil vanjaar 2,5-miljoen-rand insamel as deel van sy jaarlikse, landwye fondsinsameling om gemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië op te hef. Die veldtog wat op 18 Julie op Nelson Mandela-dag begin het, eindig Vrydag met PNA se Prettige Sokkie-dag. Die geleentheid ondersteun vier organisasies sonder winsbejag: Breadline Africa, die CHOC-kinderkankerstigting, Rally to Read en Matla a Bana. Mense word aangemoedig om Vrydag ‘n plakker vir net tien-rand te koop en hulle prettigste sokkies te dra.
# Die Weskusdorp Hopefield berei ywerig voor vir die Fynbos-kwiltfees wat van 8 tot 11 Oktober deur die Goeie Hoop Kwiltersgilde aangebied word. Die vierdaagse geleentheid met die tema Skep. Verbind. Sorg sal uitstallings, slypskole en gemeenskapsbyeenkomste insluit om meer as 500 besoekers te lok. Bedrywighede sluit onder meer klasse oor kwiltwerk, botaniese drukwerk, breiwerk en hekelwerk in. Die fees sluit ook ‘n seshoekige byekorfprojek in om fondse in te samel vir gemeenskaps-uitreike.
# Die organiseerders van die jaarlikse Soweto Kota-fees wat die naweek op die Dobsonville-stadion gehou is, sê die geleentheid was ‘n groot sukses. Honderde mense het opgedaag om die skeppendste weergawes van elke township se geliefde straatkos te proe. Thabane Ledwaba van 2 Selai het weggestap met die titel van die Beste Kota van die fees en 25-duisend-rand se prysgeld. Tweede was Zaza Eatery en derde Ko-boiketlong Situations. Die feesdirekteur, Sidwell Tshingilane, sê die geleentheid het ontwikkel tot baie meer as net kos.
# ‘n Student in openbare betrekkinge aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Khomanani Makamu, sê om Suid-Afrika op die Wêreld-studentespele in Duitsland te verteenwoordig was ‘n mylpaal vir sy loopbaan. Altesaam 150 lande het in 18 sportsoorte meegeding op een van die grootste multi-sportgeleenthede ter wêreld. Die 22-jarige Makamu, ‘n basketbalspeler wat in Limpopo gebore is, sê om teen groter, vinniger en vaardiger teenstanders mee te ding het sy selfvertroue ‘n hupstoot gegee. Hy sê hy hoop om Suid-Afrika steeds op die wêreldverhoog te verteenwoordig.
# En Warner Brothers en New Line se The Conjuring: Last Rites was in sy openingsnaweek bo-aan die die Noord-Amerikaanse lokettrefferleer. Die twee sterre, Patrick Wilson en Vera Farmiga as Ed en Lorraine Warren, is in die rol van twee ondersoekers wat probeer om ‘n demoon uit ‘n gesin se huis te verdryf. Disney se hervrystelling van die verhoogmusiekblyspel Hamilton is tweede op die trefferlys, met die hervrystelling van Steven Spielberg se Jaws in die derde plek. Warner Brothers en New Line se Weapons en Disney se Freakier Friday, in hulle vyfde week, het bestendig gebly in die vierde en vyfde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….