Nuus 13:00
BULLETIN 9 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,8-persent gegroei
# ‘n Soektog begin na die verdagtes in ‘n driedubbele moord in Gqeberha
# En sokker: Nottingham Forest dank sy afrigter af na net drie wedstryde in die nuwe seisoen
# Suid-Afrika se bruto-binnelandse produk het na geringe groei van 0,1-persent in die eerste kwartaal met 0,8-persent versterk in die tweede kwartaal van April tot Junie. Vervaardiging, mynbou en handel het groei aan die voorsieningskant van die ekonomie gelei. Die bestedingskant was ook positief, hoofsaaklik danksy sterker huishoudelike verbruik en swakker invoere.
# Die staatsbeheerde digitale verspreider Sentech waarsku hy sal die SABC se sein teen Desember afskakel indien die uitsaaier nie sy skuld van ‘n miljard-rand vereffen nie. Die SABC wil die seinkoste weer onderhandel te midde van vertragings met die aanvaarding van die Wetsontwerp op die SABC om ‘n nuwe befondsingsmodel te skep. Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Khusela Diko, sê dringende ingryping is nodig om die SABC te red en werksgeleenthede en gemeenskapsuitsendings te beveilig:
# Die Oos-Kaapse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat verantwoordelik is vir ‘n skietery in Gqeberha gisteraand waarin twee vroue en ‘n nege-jarige meisie dood is. Polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê lede is na ‘n skietvoorval in Malibalestraat, Soweto on Sea in Kwazakele ontbied. Mawisa sê inwoners het skote gehoor en die polisie in kennis gestel nadat hulle die liggame gevind het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Global Sumud-flottielje sê sy vaartuig, die Family Boat, is vandag in Sidi Bou Said-hawe naby Tunisië deur ‘n vermeende hommeltuig getref. Die ses mense aan boord, insluitend die Sweedse aktivis Greta Thunberg, is ongedeerd. Tunisiese owerhede het die bewerings ontken en sê reddingsbaadjies het die brand veroorsaak. Die organiseerders sê die vaartuig is in Tunisiese waters getref. Die projek, ondersteun deur aktiviste van 44 lande, insluitend Suid-Afrika, het beloof om voort te gaan met sy sending om humanitêre hulp aan Gaza te lewer.
# Sokker: Die Engelse Premierligaspan Nottingham Forest het afrigter Nuno Espirito Santo afgedank na 21-maande in beheer en slegs drie wedstryde in die nuwe seisoen. Die Portugees het in Junie ‘n driejaar-kontrak onderteken, maar verlede maand erken sy verhouding met die eienaar, Evangelos Marinakis, het versleg. Nuno het Forest verlede seisoen na ʼn sewende plek in die Premierliga gelei en die span het die eerste keer in 30-jaar vir die Europese Liga gekwalifiseer. Tottenham Hotspur se voormalige afrigter, Ange Postecoglou, is ‘n kandidaat om oor te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-962-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-654-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….