Nuus 11:00
BULLETIN 9 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beantwoord vandag vrae in die Parlement oor VSA tariewe, die nasionale dialoog en G20
# Die Parlement is bekommerd oor die afname in indiensneming in die uitsaai- en poswese-sektore
# En Rugby: Die Bok-slot Nortjé gaan die Bulle se VRK-span lei
# President Cyril Ramaphosa beantwoord vandag vrae van parlementslede in die Nasionale Vergadering in Kaapstad. Die hooffokus is op samewerking met die Amerikaanse regering vir die bereiking van ‘n handelsooreenkoms en die verlaging van tariewe. ‘n Evaluering van Suid-Afrika se presidentskap van die G20 is ook op die agenda. Die Presidensie sê Ramaphosa sal ook die regering se standpunt oor die toekoms van die Posbank uiteensit en die beoogde uitkoms van die nasionale dialoog bespreek.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het kommer uitgespreek oor die afname van 12,3-persent in indiensneming in die telekommunikasie-, uitsaai- en possektor. Die parlementêre ekonomiese groepering het die media ingelig. Die komitee se voorsitter, Khusela Sangoni Diko, sê hierdie daling weerspieël groter ekonomiese druk, maar beklemtoon ook strukturele swakhede in die sektor. Sy sê hulle verwag van die regering om dapper, beslissend en vernuwend te lei om die digitale ekonomie se volle potensiaal te ontsluit:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, die adjunkminister, Polly Boshielo, en die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, vergader vandag met belangrike rolspelers in Mitchells Plain en Mfuleni in Kaapstad te midde van voortslepende dodelike bendegeweld in die Wes-Kaap. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê verteenwoordigers uit burgerlike groepe, godsdiensleiers en gemeenskapspolisie-forums sal die geleentheid bywoon:
Nuus uit die buiteland:
# Thailand se hoogste hof het die voormalige premier, die miljardêr Thaksin Shinawatra, tot ‘n jaar agter tralies gevonnis. Hy is in 2023 tronkstraf van agt jaar opgelê op aanklagte van korrupsie en magsmisbruik, maar is na ‘n hospitaal oorgeplaas nadat hy in die tronk aangekom het. Thaksin het toe ses maande in ‘n BBP-suite in die hospitaal deurgebring en is vrygelaat nadat hy koninklike kwytskelding ontvang het. Sy vonnis is uiteindelik omgeskakel. Die hof het beslis Thaksin se langdurige hospitaalverblyf was onwettig.
# Rugby: Die nuwe afrigter van die Bulle, Johan Ackermann, het die Springbok-slot Ruan Nortjé as kaptein aangewys vir die komende Verenigde Rugbykampioenskaps-seisoen wat later die maand begin. Hy het ‘n groep van 56-spelers gekies in die groep, wat uit 32 voorspelers en 24 agterspelers bestaan. Dit sluit ervare spelers soos die Springbok-losskakel Handré Pollard en die senter Jan Serfontein in, en die Junior Bok-wêreldkampioene Esethu Mnebelele, JJ Theron, Jean Erasmus, Jaco Grobbelaar en Cheswill Jooste. Die Bulle se eerste wedstryd is tuis teen die Ospreys op die 27ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-84-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-647-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….