Nuus 16:00
BULLETIN 8 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisiekommissaris prys die taakspan oor politieke moorde vir ‘n deurbraak
# Numsa en die Akteursgilde vra die hervorming van Suid-Afrika se vermaaklikheidsbedryf
# En die polisie skiet ‘n voortvlugtende Nieu-Seelandse pa dood en vind sy drie vermiste kinders in die wildernis
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die polisie se taakspan vir politieke moorde geprys vir die vinnige inhegtenisneming van verdagtes wat gesoek word vir die moord op ‘n verklikker, Xolani Ntombela. Ntombela se moorddossier was een van die 121 wat teruggestuur is na die taakspan om te ondersoek. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ‘n plaaslike hoofman van KwaZulu-Natal en ‘n vermeende huurmoordenaar is in hegtenis geneem vir die moord in November 2022:
# Numsa en die Suid-Afrikaanse Akteursgilde sê die kreatiewe sektor is parasities en teer op die werk van kunstenaars terwyl laasgenoemde regverdige vergoeding en sekerheid ontsê word. Die dood van die aktrise Nandi Nyembe verlede maand het die debat oor gebrek aan ondersteuning vir Suid-Afrikaanse kunstenaars wat nie kan werk nie, laat hervat. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die gilde het hom daartoe verbind om met georganiseerde arbeid saam te werk aan regulering en basiese beskerming vir kreatiewe werkers:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Voortvlugtende pa wat saam met sy drie kinders in die Nieu-Seelandse wildernis weggekruip het, is deur die polisie doodgeskiet. Thomas Phillips en sy kinders van tussen nege en twaalf ontduik die polisie reeds sedert Desember 2021 in ‘n afgeleë deel van Noordeiland, en die soektog het die land aan die gons gehad. Hulle vlugtog het in die vroeë oggendure geëindig toe die polisie reageer het op ‘n klagte van ‘n inbraak by ‘n plaaswinkel in ‘n plattelandse dorp. Die drie kinders is nou in polisie-sorg.
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, sê daar is baie positiewe dinge om te neem uit hul laaste groep D-Wêreldbekerwedstryd teen Frankryk in Northampton. Suid-Afrika het ‘n teleurstellende nederlaag van 57-10 teen Les Bleues gely en kom Saterdag teen die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, te staan in die kwarteindronde. De Bruin sê Frankryk is vierde op die wêreldranglys en dit was duidelik omdat hulle baie klinies was en elke geleentheid in punte omskep het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-939-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-616-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: South African Church Defenders is bekommerd oor die voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, se opmerking dat mense wat beweer hulle hoor God se stem, vir sielkundige sorg verwys moet word. Godsdiensgroepe veroordeel haar opmerking as ‘n gevaarlike ontkenning van die geestelike werklikheid. Mkhwanazi-Xaluva het haar standpunt verdedig en sê dis noodsaaklik om godsdienstige praktyke te reguleer om die misbruik daarvan te voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….